General

Handel in onwettige sigarette neem toe

THABAZIMBI – Smokkelaars het hul rieme in Thabazimbi styf geloop toe die SAPD verlede week op ‘n besending onwettige sigarette beslag gelê het.

Volgens ‘n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Tabak Instituut, Dereck de Kock, is meer as R 160 000 se sigarette op weg van Zimbabwe in Thabazimbi voorgekeer. “Daar is niks fout met die sigarette nie. Dit is van bekende handelsmerke, maar is nie vir die Suid-Afrikaanse mark vervaardig nie. Dit beteken dat dit nie die gewone waarskuwingstekens of –merke het nie. Daar is ook geen waarborge dat Suid-Afrikaanse standaarde gehandhaaf is nie. Geen invoerbelasting of sogenaamde ‘sonde-belasting’ is ook hierop betaal nie,” sê De Kock.

Daar word vermoed dat die sigarette aanvanklik bedoel is vir die Zimbabwiese mark en deur die grens gesmokkel is. Die sigarette word dan onwettig verhandel, wat beteken dat die staat inkomste aan belasting verloor en dat wetsgehoorsame handelaars hierdeur ingedoen is.

Met die 16 dose sigarette wat elk ongeveer R 560 se belasting werd is, verloor die staat R 33 600 op so ‘n besending.

Minder as drie weke gelede is daar op ‘n soortgelyke besending in die Lephalale-omgewing beslag gelê. Die besending kom ook na bewering van Zimbabwe, maar die polisie kon die twee voorvalle nie met mekaar verbind nie. Beide sake word nog ondersoek.

De Kock verduidelik dat die misdaad drie jaar gelede nie bestaan het nie, maar tans die land derduisende rande se skade berokken. “Veral Limpopo word gebruik om die onwettige sigarette in te smokkel.” Die SAP kon nie amptelik hierop kommentaar lewer nie.

Enigeen wat inligting het oor onwettige sigarette beskik kan hul naaste SAP-kantoor kontak.

Elana Greyling