General

Kersboodskap

Die afgelope jaar was besonders geseënd vir die vee en wildboere in Limpopo, ten opsigte van reën, asook marktoestande. Vir ons boere wat in die eko-toerisme betrokke is, was dit nie so voorspoedig nie. Net so was die graanproduksie besonders goed. Ongelukkig was kommoditeitspryse nie in lyn met insetkoste nie, en word die ekonomiese volhoubaarheid van landbou beïnvloed. Ons groente-produsente het ook `n jaar van uiterstes beleef. Met meer as voldoende reën het als rooskleurig voorgekom, en die is toe opgevolg met ongekende koue-skade die afgelope winter. Ons vrugteboere gaan gebuk onder druk as gevolg van die besondere sterk Rand wat uitvoer inkomste beïnvloed. Ons boer in Suid-Afrika al die afgelope om en by 360 jaar, wat gebeur het die afgelope jaar, het al voorheen gebeur. Ons boere ken die land en sal oorleef. Ons doelwit is om die land `n beter plek te maak vir ons nageslag, met ons oë gerig op ons Skepper.

Ten opsigte van veiligheid, was daar ietsie positief die afgelope jaar. Ons was skepties oor die moontlike sukses van die wêreld sokkerbeker toernooi, wat plaasgevind het. Uiteindelik het dit tog baie suksesvol afgeloop. Hoe sluit dit dan aan met die veiligheid van ons boere? Vir die eerste keer in jare het ons `n periode van meer as ses weke beleef in Limpopo waar geen plaasaanval plaasgevind het nie. En wat gebeur na die toernooi? Alles keer terug na normaal en plaasaanvalle met gepaardgaande moorde begin weer, met verhoogde intensiteit. Die les wat ons hieruit geleer het, bewys dat ons kan ‘n veilige omgewing skep.

2011 sal net soos 2010, `n jaar van uitdagings wees om finansieel te oorleef en veilig te wees. Dit gaan uitdagings bring, wat ons net sal sterker maak as kommersiële landbouers. Munisipale verkiesings, bepaling van eiendomsbelasting, landbouers se regte en pligte onder die nuwe Groenskrif en die geïntegreerdegroei- en ontwikkelingsplan. Ons sal moet aktief deelneem en die prosesse dryf en bestuur, vir ons eie oorlewing.
Die Regering bly die rasse kaart speel, en vermy die werklikheid ten opsigte van volhoubare voedsel voorsiening op die lang termyn.

Dit is met dankbaarheid teenoor ons Skepper dat ons kan getuig dat hy ook genadig is vir ons as sondaars. So ook gee Hy ons die versekering dat Hy ‘n God van genade is en ons liefhet.  So wil ons dan Hom loof en prys vir Sy teenwoordigheid in ons lewens die afgelope jaar en dit wat Hy aan ons toe vertrou het as rentmeesters. Ons bid dan vir krag, wysheid en kennis, dat ons nie sal faal in die verantwoordelikheid wat Hy aan ons op gedra het.

Ek wens u ‘n geseënde kersfees toe, en dat u en u gesinne dit sal ervaar as `n Christusfees. Vir 2011, wens ek u voorspoed toe, die uitdagings is groot, maar saam kan ons ‘n verskil maak aan ons eie toekoms. Ons is lief vir Suid-Afrika, hier het ons ook `n reg.