General

Polisievrou kyk in R-5 loop vas

TOLWE (Lephalale-distrik) – Gemeenskapsbande het Saterdagaand by die Tolwe polisiekantoor aan flarde gelê nadat twee swart polisiemanne glo vuurwapens op lede van die gemeenskap gerig het en ‘n vrouesersant na bewering aangerand het terwyl hulle wit mense as uitlanders in húlle land afgemaak het.

“Die polisie is hier om te dien en beskerm,” die woorde van Sersant Charlene Janse van Rensburg het verlede Saterdag by Tolwe-polisie min beteken, nadat daar na bewering vuurwapens op haar en die publiek gerig is en selfs ‘n skoot afgevuur is.

Die verwikkelinge by die polisiekantoor het plaasgevind nadat ‘n Konstabel en Adjudant van Tolwe polisie na 23:00 twee jong manne voor Tolwe afgetrek het. JC Brewis (22) die bestuurder en Kobus Calitz, is na bewering hardhandig uit die voertuie gepluk. “Die polisie het toe‘n R-5 teen my kind se kop gedruk en gevra hoekom hy nie vir die padblokkade gestop het nie?” vertel Danie Brewis. Hy het na bewering aan hulle genoem dat hy nie ‘n padblokkade gesien het nie. Hy is glo rondgestamp, geboei en agter in die vangwa gegooi.

Calitz se vriendin is intussen ook uit die motor geruk en na bewering onsedelik aangerand. ‘n Getraumatiseerde Calitz het onmiddellik Brewis se ouers gekontak. Hulle is dadelik na die polisiekantoor om uit te vind wat die aanklag teen hulle seun is. Met hul aankoms by die polisiekantoor is die hekke glo gesluit. Hulle sê lede van die polisie het geweier om met hulle te praat.

Uit desperaatheid het hulle Sersant Van Rensburg gekontak om hulle by te staan. Sy het haar na die polisiekantoor gehaas. “Ek het al die regte prosedures gevolg. Ek het die tweede in bevel gekontak omdat ek nie ons stasiebevelvoerder, Kapt Gert Majadibudu, in die hande kon kry nie. Hy het vir my gesê om Kol. Wessel Geldenhuys te kontak wat weer op die beurt gesê het ek moet met die tweede in bevel skakel,” het Sersant Van Rensburg vertel.

Intussen het dinge by die polisiestasie hand uitgeruk.

Volgens ooggetuies is die jong Brewis nooit uit die vangwa gelaai nie en is vuurwapens deurentyd op lede van die publiek gerig as hulle nader wou gaan. Mense wat daar was vertel dat daar deurentyd vir hulle geskree is dat wit mense mos dink hulle is beter as ander. Hulle is glo gevloek en polisiemanne het na hulle verwys as “foreigners” in húlle land.

Sersant van Rensburg sê sy het gevoel Brewis se lewe is in gevaar en het die hek oop forseer om die terrein binne te kom. By die hek het die konstabel wat by die aanvanklike arrestasie betrokke was haar na bewering ‘n paar keer  by die hek probeer uitboender en haar arm in die hek vasgedruk. Haar man, Gert Janse van Rensburg het haar egter bygestaan en glo die konstabel weggestamp.

Sersant van Rensburg is onmiddellik na die vangwa. Sy het ‘n erg geskokte Brewis uitgelaat en terug gestap hek toe.

“Toe ek by die hek kom het ek omgedraai en reguit in ‘n R-5 geweerloop vasgekyk. Ek het gedink hulle gaan ons skiet,” vertel sy. Sekondes later het ‘n skoot wel afgegaan – bo-oor hulle koppe. “Ek het regtig gedink hulle het my man geskiet, maar gelukkig was dit mis.”

Daar is na bewering herhaaldelik deur die ouers, Sersant van Rensburg en die TLU veiligheidsvoorsitter, Paul Horn, gevra waarvoor Brewis aangekla word. Volgens hulle het hulle geen antwoord ontvang nie. Selfs nadat Brewis vrygelaat is, het ‘n lid van die publiek na bewering gevra of daar borgtog betaal moet word. Weereens is daar glo geen antwoord ontvang nie. Baie van die ooggetuies het aan gevoer dat die polisie onder die invloed van drank was.

Lt. Kol. Wessel Geldenhuys van Lephalale het Woensdag by die polisiestasie op Tolwe verklarings van die publiek kom afneem.

Alhoewel Kapt Majadibudu, van die aand se verloop vertel is, het hy tot op hede geen aksie geneem nie. Die betrokke polisielede is steeds in diens op Tolwe.

Van Rensburg is Maandag dokter toe om na haar beseerde arm om te sien. Sy is vir ‘n week lank op siekverlof geplaas. Sy het egter weergegee dat geen polisielid haar nog na die aanval gekontak het om die voorval te bespreek nie. “Ek moet bysê dat ek nie spyt is oor wat ek gedoen het nie, ek sal dit weer doen. As dit egter nie was vir die ondersteuning van die gemeenskap en genade van bo nie, kon dinge baie anders uitgedraai het.”

JC Brewis ontvang intussen sielkundige berading. Alhoewel hy die voorval redelik goed verwerk vertel sy ouers dat hy nie kan vergeet hoe hy gevoel het toe ‘n gweer teen sy kop gedruk is nie.

Van Rensburg is intussen aangekla van dwarsboming van die gereg en Brewis van dronkbestuur, hoewel daar in geen stadium enige toetse gedoen is om sy alkoholvlak te bepaal nie.

Op hulle beurt het Van Rensburg, JC Brewis en Calitz se vriendin aangedui dat hulle onderskeidelik klagte van aanranding, onregmatige arrestasie en onsedelike aanranding teen die twee betrokke polisielede gaan lê.

Tydens ‘n nood veiligheidsvergadering wat Dinsdag aand gehou is het gemoedere hoog geloop. Lede van die gemeenskap was baie ongelukkig dat ernstiger stappe nog nie teen die polisie geneem is nie. Die gevoel is dat die erns van die situasie vereis dat hulle wapens Saterdag al verwyder moes wees en hulle geskors moet word tot tyd en wyl ‘n ondersoek aan die gang is.

Teen druktyd het die Bosveld Bulletin nog geen terugvoer op navrae aan polisiewoordvoerders gehad nie. – LiN Nuusburo/Bosveld Bulletin