Fleur de Lis se tweede Vrouedag in R35 000

‘n Totale bedrag van R35000 is vir liefdadigheid geïn, op die foto is Pieter Koen, Cornelia Holtzhausen en Chrisna Els met die tjek van R20000 aan Celia Schoeman ten bate van haar mediese koste.

THABAZIMBI – Die tweede Fleur-de-lis Vrouedag is op Saterdag 18 September by die Kumbasaal aangebied.

Hierdie jaarlikse damesoggend het ten doel om fondse ten bate van liefdadigheid te in. Die menige borge het dit moontlik gemaak om R20000 aan Celia Schoeman ten bate van mediese koste, R10000 aan klein Louis Pretorius vir sy hart operasie en R5000 aan Jessie Lang ten bate van haar mediese koste in te samel.

Die vermaaklike verhoogpersoonlikheid, Pieter Koen het as seremoniemeester opgetree en die dames tussendeur ook met sy mooi stem bekoor.

Janine van Jaarsveld, ‘n voorkomskonsultant van George, Connie Elizabeth, van Nimue velsorg SA en Geni Pieterse van Essential Oils in Port-Elizabeth, het verskeie kure en geheime met die dames gedeel om hulself uiterlik te versorg en gesond te hou.

Die dames is ook innerlik versterk deur die motiveringspreker en homeopaat van Pretoria, Retha Knoetze. Die dag is verder opgevrolik deur Bets Snyman van AnnaBeth bloemiste se mooie blomme.

Die organiseerders, Sorika en Pieter van Zyl, Chrisna Els, Cornelia Holtzhausen, Pierre Faurie en René Swanepoel bedank graag die hoofborge, naamlik Sorizty’s Dag Spa, Nimue velsorg, Standard Bank en Liberty asook elke dame wat die dag so mooi ondersteun het. Sien volledige bedankingslys elders in Die Kwêvoël.