General

Renostersaak neem dramatiese wending

Die 51-jarige Tom Fourie wat Dinsdagaand sy eie lewe geneem het.

Die saak teen twee vriende van Musina wat na bewering betrokke was by die onwettige handel in renosterhorings, het ‘n dramatiese wending geneem.

Tom Fourie (51), een van die beskuldigdes in die saak en bestuurder van die Deense wildsplaas Maremani buite Musina, het homself Dinsdagaand doodgeskiet. Volgens ingeligte bronne na aan die ondersoek het Fourie Dinsdagmiddag die huis verlaat, sonder om enige iemand in kennis te stel. ‘n Plaaswerker wat later na Fourie gaan soek het, het hom dood onder ‘n boom op ‘n afgeleë deel van die plaas gekry.

Fourie het ‘n skietwond aan sy kop gehad. Langs hom het ‘n .38-rewolwer, wat aan die Deense maatskappy behoort, gelê.

Die Zoutpansberger het Woensdag vertroulik verneem dat Fourie na sy arrestasie deur die Deense maatskappy afgedank is en gevra is om die plaas voor 1 Desember te ontruim.

Provinsiale polisiewoordvoerder, lt-kol. Ronel Otto, het Woensdagoggend bevestig dat die polisie geen gemene spel vermoed nie en dat hulle  ‘n geregtelike ondersoek na Fourie se dood geopen het.

Fourie is op 9 September  vanjaar op R5 000 borg vrygelaat, nadat hy in die landdroshof op Musina  verskyn het op klagte wat verband gehou het met die onwettige besit en verkoop van tientalle renosterhorings. ‘n Vriend van Fourie, Jacques Els (37), is tydens ‘n tweede hofverskyning van Fourie op dieselfde klagte in hegtenis geneem. Els het homself tydens die hofverskyning oorgegee aan die polisie en is op R30 000 borg vrygelaat. Albei se sake is uitgestel tot 28 Januarie volgende jaar. Die saak teen Fourie en Els hou na bewering verband met die verkoop van net meer as 30 renosterhorings wat klaarblyklik op Maremani van renosters verwyder is.

Volgens inligting was Fourie ten tye van sy dood in die proses om ‘n pleitooreenkoms met die Staat aan te gaan in sy saak. Dit was teen druktyd nog nie bekend wat presies die ooreenkoms behels het nie. Bewerings dat Fourie en Els se arrestasie en hofverskyning verband gehou het met die arrestasie van Dawie Groenewald en tien ander beskuldigdes op soortgelyke aanklagte, is deur ondersoekbeamptes in die saak ontken.

Groenewald, van Out of Africa Adventure, het saam met twee veeartse van Modimolle, Karel Toet en Manie du Plessis, op 22 September, skaars twee weke na Fourie, in die hof op Musina verskyn. Na wat verneem word is nog twee verdagtes in die Groenewald-saak op 7 Oktober in hegtenis geneem. Gys du Preez (31), ‘n professionele jagter, en ‘n plaaswerker Joseph Maluleka (39) sal weer in die hof verskyn saam met Groenewald en die ander 10 beskuldigdes op 11 April volgende jaar.

Luidens ‘n woordvoerder van die Valke, kol. Musa Zondi, het die polisie op 20 renosterkarkasse afgekom op Groenewald se wildsplaas naby Bokmakierie. (LiN Nuusburo / Zoutpansberger)