Hou kop wanneer jy huis verkoop
Verbruikers wat hul gesinshuise verkoop behoort die transaksie saaklik te benader en daarteen te waak dat emosies eerder as gesonde verstand hulle besluite beïnvloed.
“’n Gesinshuis is gewoonlik veel meer as ‘n klomp stene en sement,” sê Harcourts Afrika se uitvoerende hoof, Richard Gray, “en ‘n mens se emosionele verbintenis met so ‘n eiendom neem gewoonlik toe hoe langer jy en jou gesin daar woon. Dit kan egter ‘n groot struikelblok word wanneer dit by die verkoop van die eiendom kom.”
Hy sê dat min mense byvoorbeeld hulle eie huise objektief kan beoordeel en dat die meeste mense inderdaad die waarde te hoog ag en nie besef dat hulle eintlik van kopers verwag om hulle te vergoed vir die kosbare herinneringe wat die huis inhou nie – en dat hulle daardeur moontlik hulle kanse op ‘n transaksie in die wiele kan ry.
“’n Mens moet koelkop bly as jy ‘n transaksie wil beklink en in dié opsig is dit baie nuttig om die professionele hulp van ‘n ervare eiendomsagent in te roep om jou van kundige raad te bedien en ‘n praktiese perspektief oor die waarde van jou huis in die heersende mark te verskaf.”
Gray sê dit is verder raadsaam om ‘n agent te hê wat as ‘n buffer kan dien tussen jou sensitiwiteit en die soms reguit kritiek wat voornemende kopers oor jou geliefde huis kan uitspreek. “Dit sal help voorkom dat jy besluite halsoorkop neem, soos om botweg te weier om jou huis te verkoop aan die persoon wat jou kombuis se kleurskema gekritiseer het, of die voornemende koper wat duidelik laat blyk het dat alle matte dadelik met teëls vervang gaan word indien hy besluit om die eiendom te koop.”
‘n Goeie agent sal ook seker maak dat voornemende kopers nie op ongeleë tye jou drumpel deurtrap nie. “Hy of sy sal afsprake en skoudae vroegtydig reël en seker maak dat jy genoeg tyd het om jou huis vir besigtiging reg te kry en jou dan uit die voete te maak, veilig in die wete dat ‘n ervare kundige na jou belange omsien.
“En wanneer jy ‘n koopaanbod ontvang, sal jou agent jou met raad en daad bystaan om al jou wetlike verpligtinge na te kom en jou boonop op die hoogte hou van die transaksie se verloop – en dit sal jou die tyd en geleentheid gee om planne vir jou nuwe huis te maak.”
Uitgereik deur Harcourts Suid-Afrika