Greyvenstein-moordenaar(s) steeds op vrye voet

Wyle Johan Greyvenstein (54) en wyle Annelise Greyvenstein (53). Foto's verskaf

Nog niemand is aangekeer in verband met die grumoord op die Greyvenstein-egpaar van Musina nie.

Die barbaarse en sinnelose moord op die 54-jarige mnr. Johan Greyvenstein en sy 53-jarige vrou, Annelise, het die Soutpansberg-gemeenskap met afgryse en skok vervul.

Die egpaar is verlede Donderdag dood in hul bakkie aangetref, ‘n klipgooi van hul plaaswoning op die Cassel-plotte sowat 10km buite Musina.

Mnr. Greyvenstein het ‘n koeëlwond agter die linkeroor gehad. Sy liggaam het skuins oor Annelise gelê en was halfpad met ‘n seil bedek. Teen druktyd was die oorsaak van Annelise se dood nog onbekend.

Die egpaar is vermoedelik reeds Dinsdagaand vermoor, nadat hulle vroeër die dag inkopies op Musina gaan doen het en vir hul dogter, Samantha, gaan kuier het.

Mnr. Martin van Rensburg, ‘n vriend en buurman van die egpaar, het die polisie ontbied, nadat hy die egpaar sedert Dinsdag nie gewaar het nie. ‘n Grusame toneel het hulle begroet, met ontbinding wat reeds ingetree het.

Samantha, die egpaar se jongste dogter, was vandeesweek steeds erg getraumatiseerd na die moord op haar ouers.

“My ouers was goeie mense en geliefd in die gemeenskap. Albei het altyd gehelp waar hulle kon,” het sy gesê. Die polisie het haar geskakel om uit te vind watter klere haar ouers aangehad het. Die egpaar was geklee in presies dieselfde kleredrag wat hulle Dinsdag aangehad het toe hulle laas gesien is.

Net die egpaar se skoene is vanaf die moordtoneel vermis. Hulle inkopies was nog onaangeraak agterop op die bakkie. Daar is wel by hul huis ingebreek. ‘n Hoekslyper is gebruik om die kluis in die huis oop te sny en slegs mnr. Greyvenstein se rewolwer is gesteel. Die res van die huis was onaangeraak.

Provinsiale polisiewoordvoerder lt-kol. Ronel Otto het by navraag gesê die polisie se ondersoek na die voorval duur onverpoosd voort. Hulle is tans op soek na ‘n Zimbabwiese man wat by die egpaar werksaam was. Hy is sedert die moord vermis.

Die Greyvenstein-egpaar het beide as kontrakteurs by Venetia Myn gewerk. Hulle word oorleef deur twee seuns en twee dogters, asook vyf kleinkinders.

‘n Roudiens vir die egpaar vind Vrydag (12de) om 11:00 vanuit die NG-gemeente op Musina plaas. Mnr. Greyvenstein sou op dieselfde dag sy 55ste verjaardag gevier het.

Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie, het die hoop uitgespreek dat die polisie spoedig die moordenaar(s) sal aankeer, sodat reg en geregtigheid kan geskied. (LiN Nuusburo / Zoutpansberger)