X-treme Adventures 4 Disabled leer Boogskietkuns

Lede van X-treme Adventures 4 Disabled het op 15 Oktober by Pro Bow Boogklub bymekaar gekom om nuwe talente te ontdek. Op die foto is Danie Theron besig om die snaar te span saam met Nico Engelbrecht, eienaar van Pro Bow Archery’s.

THABAZIMBI – X-treme Adventures 4 the Disabled het Vrydag 15 Oktober by Pro Bow Boogklub bymekaar gekom om die uitdaging van boogskiet aan te vat.

Elkeen het ‘n kans gekry om nuwe talente te ontdek. Nico Engelbrecht het verduidelik hoe ‘n boog werk, en hoe dit gebruik moet word, en elkeen het ‘n kans gekry om die snaar te span.

Selfs Marietjie Coetzee wat gesiggestremd is het ook geskiet, en elkeen skoot het die teiken getref. Daarna het die lede en hul families heerlik saamgekuier om die vuur en vleis gebraai.

Die gestremdes gaan nou elke Maandag om 17:00 by Pro-Bow bymekaar kom om te oefen. X-treme Adventures 4 the Disabled beplan om ook gestremdes in die gemeenskap aan ander sportsoorte soos swem, perdry, gholf en nog vele andere bloot te stel.

Hul opregte dank aan Pro Bow vir die heerlike aanbieding en dat die nuwe lede as gestremdes ook deel kan wees van die Pro Bow familie.

Petrus van Breda  ‘n lid van X-treme Adventures 4 the Disabled het op 11 September by Pildich Stadion in Pretoria en 30 Oktober in Bloemfontein deelgeneem aan spiesgooi, skyfwerp en gewigstoot. Petrus behaal eersteplekke in al drie die items en kwalifiseer om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Rustenburg wat volgende jaar gaan plaasvind. Zanelle Pohl, ook ‘n lid van X-treme Adventures 4 the Disabled het ook baie goed gevaar in skyfwerp en gewigstoot by hierdie byeenkomste.

Die lede van X-treme Adventures 4 Disabled wens Petrus en Zanelle sterkte toe vir die byeenkomste more, 6 November te Pretoria en 13 November te Rustenburg. Die klub is voorwaar trots op hulle.