Wesies se Kerswense

NYLSTROOM – Verlede week is berig oor die Kerswense van wesies van Huise Bauhinia, Boekenhout en Maroela van die Abraham Kriel Kinderhuis te Nylstroom.

Een van die basiese kinderregte, is die reg tot liefde, maar baie van hierdie wesies ken nie ouerliefde nie. Dit is in die lig van die komende kersseisoen, dat die Wense vir Wesie-projek ‘n bietjie liefde in hierdie kinders se lewens wil saai deur ‘n paar Kerswense vir hierdie 170 afvlerkkinders waar te maak.

Huis Essenhout het 12 middelgroep seuns van ouderdomme 7 – 12 jaar. Die meeste van hierdie seuns wens vir somersnagklere, opvoedkundige legkaarte, ‘n staal bedlampie of ‘n kerkhemp. Huis Katjiepiering se 13 dogters van ouderdomme 9 – 16 wens vir toiletware, skryfbehoeftes, ‘n somer nagrok of enige bederfie vir Kersfees. Huis Kiepersol se nege senior seuns van ouderdomme 13 – 18 jaar se Kerswense strek van tekkies, broeke, toiletware of ‘n kerkhemp met knope. Huis Knoppiesdoring se agt seuns van ouderdomme 14 – 18 sal graag ‘n “boxer short”, kouse, tekkies of selfoonlugtyd vir Kersfees wil hê.

Indien enigiemand belangstel om ‘n donasie te maak, hoe gering ook al, besoek hul webtuiste vir die volledige Kersfeeswenslys, by http://www.kinderhuisnylstroom.org.za of kontak hul bemarker, me Gezina Lombard by 082 897 3877 of e-pos gezina@esnet.co.za.

Bankbesonderhede vir enige donasies is: Bank: ABSA Modimolle / Nylstroom, Rekening Naam: AKK Maatskappy Nylstroom, Tjek Rekening nr.1100 140 000, Tak kode:632005, Verwysing: Wens Lyste. ‘n Artikel 18A kwitansie word aan elke donateur voorsien.