Thaba getooi vir Feestyd Safari

THABAZIMBI – Die Kersseisoen het ‘n heerlike realiteit geword toe meer as 15 huise en besighede op 27 Oktober besoek is deur Thabazimbiërs wat kaartjies gekoop het vir Feestyd Safari, ‘n fondsinsamelingsprojek van Laerskool Thabazimbi se Tjokkerskool.
Die besoekpunte is versier met liggies, kersbome, kerstonele en vriendelike glimlagte. Nie alleen was besoekers gul ontvang nie, maar handgemaakte produkte, plante of winkelware, wat geskikte Kersgeskenke sal uitmaak, is ten toon gestel en te koop aangebied.
By sommige van die punte op die roete is daar selfs verversings aangebied vir besoekers en gratis geskenkies weggegee. Een aand was byna te kort om reg te laat geskied aan die groot verskeidenheid besoekpunte én groot keuse van geskenke .
Die roete het plekke ingesluit op Kwaggasvlakte, Heuwelkruin en in die dorp self. Die Plaaskombuis, Memory Lane, La Vie en Rose Coffee Shoppe en Krimpvarkie en Vlinders was maar enkele van die besoekpunte op die roete. Besoekpunte kon na vrye keuse besoek word indien ‘n kaartjie, wat die roete aangewys het, by die Tjokkerskool gekoop is.
Volgens die Graad R-onderwysers was dié nuwe projek baie suksesvol en hoop hulle om dit ‘n jaarlikse instelling te maak. Hulle meen dit was ‘n heerlike kuieraand met geleentheid om geskenke te koop en nuwe idees vir Kersfees en Kersgeskenke te kry. Dit het inwoners ook in staat gestel om die dorp opnuut te ontdek en in aanraking te kom met die kreatiwiteit van die inwoners.
Hennie Pauw