General

SAVF uitreik-aksies hou harte warm

THABAZIMBI – Die afgelope winter het die SAVF Thabazimbi warmte vir lyf en hart verskaf aan sowat 1 777 sorgbehoewende Thabazimbiërs met uitreik-aksies.

In samewerking met die plaaslike polisiekantoor is daar op “Mandela Dag” hulp verskaf aan sorgbehoewendes vir 67 minute lank. Daar is met hierdie poging probeer vasstel hoeveel hulp in 67 minute aan ‘n gemeenskap gelewer kan word.

Sop was voorberei (met bestanddele wat, onder meer, deur SAVF verskaf is) en uitgedeel aan 30 bejaardes in Metikaring-sinkhuise in Regorogile. Hulp is ook verskaf met die bad en aantrek van ouer en gestremde persone. ‘n Bakkievrag met klere is op strategiese punte versprei. Daar is gepoog om plekke waar die nood die grootste is te identifiseer in samewerking met kerke.

Volgens SAVF kantoor-hoof, Linda Grobler, is die klerenood baie groot en kan die kantoor nie voorbly met die verskaffing daarvan nie. Sy doen ‘n beroep op Thabazimbiërs om enige tweedehandse klere na die kantoor te bring. Hulle benodig veral kleiner mansklere (groottes 30 tot 36), kinder- en babaklere en skoene. Dit wat nie versprei word nie, kan verkoop word om die kantoor se fondse te styf.

Met die SAVF se Teddie Projek is hierdie jaar 50 teddiebere altesaam aan minder bevoorregte kinders oorhandig. Die teddies is gebrei deur vrywilligers en “met liefde aanmekaar gewerk”. Sommige teddies is reeds tydens Kinderbeskermingsweek uitgedeel en ander soos die behoefte hom voorgedoen het.

Projek Winterhoop, waartydens die gemeenskap genader word om klere, komberse en kos te skenk aan die SAVF vir verspreiding, was ook baie suksesvol. Sowat 1 002 mense het klere ontvang en 20 het komberse gekry.

Enigeen wat belangstel om as vrywilliger te dien, teddiebere te brei, klere te skenk of op enige manier deel te wees van die SAVF-projekte kan die SAVF-kantoor skakel op 014 777 1093 tussen 09:00 en 15:00 weeksdae.

Hennie Pouw