Renoster stropers in hof gevonnis

Vier mans is vandeesweek in die streekshof op Modimolle skuldig bevind op aanklagte van onwettige jag van renosters, ’n bedreigde spesie.

Drie Zimbabwiërs, mnre Jimmy Moyana, Joseph Vileni en Edison Manyiki, en ’n Mosambieker, mnr Masisa Baloyi, is op Donderdag, 28 Oktober, skuldig bevind aan die onwettige jag van renosters.

Drie van die vier stropers is op Dinsdag, 27 Julie, by die D’Nyala Natuurreservaat buite Lephalale gewaar, waar hulle vermoedelik jag gemaak het op renosters in die reservaat. Die drie het uit die reservaat gevlug in ’n silwer Mercedes en al drie die verdagtes, insluitend die bestuurder, is voorgekeer in ’n padblokkade op Vaalwater, waar hulle deur lede van die polisie in hegtenis geneem is.

Die voertuig is deursoek en ’n jaggeweer met ammunisie is onder die motor se agterste sitplek gevind. Daar is verder vasgestel dat die jaggeweer vroeër die maand in ’n huisbraak in Pretoria gesteel is. Lede van die polisie het ook ’n byl in die motor se kattebak gevind.

Die vier het erken dat hulle probeer het om van die renosters op D’Nyala te jag, maar hulle was onsuksesvol.

Die vier het in die Modimolle-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige jag van renosters. Al vier het skuld beken op die aanklagte wat teen hulle gestel is.

Moyana, ’n Zimbabwiese burger, het skuld beken op die aanklag van die besit van ’n onwettige vuurwapen en onwettige ammunisie en is tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

Vilenien en Manyiki, albei Zimbabwiese burgers, en Baloyi, ’n Mozambiekse burger, is skuldig bevind op die aanklag van die onwettige jag van renosters en hulle is elk tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

“Die polisie verwelkom die vonnisse, veral die vinnige en flinke afhandeling van die saak in die hof,” het lt.kol Ronel Otto, provinsiale polisie-woordvoerder, aan Die Pos gesê. Sy het ook gesê dat die polisie hoop dat dié vonnisse sal dien as afskrikmiddel vir voornemende stropers.  — LiN Nuusburo/Die Pos