Ons lesers skryf – Feeste op Thaba Park

Die afgelope twee naweke was daar groot feeste op Thaba Park. Hier aan die bokant van die park was ons baie bewus van die luide stampe en stompe van albei byeenkomste. Ek wil my nie uitlaat oor die aard van die feeste en die opregte bedoelings daarvan en die entoesiasme van die organiseerders en bywoners nie. Ek het egter net enkele onrustige vrae in my gemoed. Deur die eeue heen het talle groot beskawings tot ‘n val gekom deurdat daar van die tradisionele en gevestigde norme afgewyk is onder die vaandel van vernuwing en aanpassing. Hierdie neigings was dan inderwaarheid nie vernuwing nie maar ‘n verheerliking van verval. Ons beleef tans soveel verval op alle terreine van ons samelewing en raak mettertyd so gewoond daaraan dat dit naderhand as die norm aanvaar word. God is volgens wat ek al gelees en gehoor het Ewig en Onveranderlik. Dit is dus die “kerk” wat gedurig aanpas en verander en nuwe norme stel om die mense gelukkig te hou. Maar as ‘n mens hoor van die afnames in lidmaatskappe in verskeie kerke, het ek my bedenkinge. Dan wonder ek of God dan nou so ver of doof is dat daar soveel volume en geraas nodig is om Sy aandag te trek. Selfs in die week met die vooraf reklame fees daar voor Pick n Pay is ‘n mens se hoor en sien oordonder deur die volume. Ek het al my mooiste en innigste ervarings met God gehad daar op ‘n bankie op die gholfbaan, weg van die geraas net met die sagte geruis van die wind en die stilte van die skepping om my.

Maar elke mens ervaar seker maar sy God op sy eie manier.

CG Volschenk