KunsteGrot sluit af op hoë noot

Die begaafde, geliefde tenoor, Manuel Escorcio, is op 19 November by die KunsteGrot te siene.

THABAZIMBI – Die laaste aanbieding vir dié jaar is die immer gewilde kunstenaar, Huisgenoot Skouspel Ikoon 2009 en ‘n afrigter in Supersterre 2010,  Manuel Escorcio op 19 November.

Die Mosambiek gebore Manuel Escorcio het as tiener in 1966 na Suid-Afrika geëmigreer en sy skoolloopbaan by Helderberg Kollege voltooi. Hy is welopgevoed met ‘n graad in Teologie, ‘n Meestersgraad in Musiek en ‘n lidmaatskap van die Royal School of London sowel as die Trinity College. Manuel sing sy liedjies in ‘n volwasse tenoorstem.

Escorcio het al opgetree in Suid-Afrika, die VSA, Kanada, Brasilië, Portugal, Venezuela, die Fillipyne en Australië. In 1981 is die dekorasie van Prins Henry aan Escorcio toegeken. Die gemeenskap is werklik bevoorreg om dié skitterende kunstenaar in die teater te ontvang. Bespreek sommer dadelik en kom geniet ‘n onvergeetlike aand. Die laaste funksie van 2010 is die Kuns-Kersmark op 4 Desember. ‘n Heerlike Gesinsdag word beplan met pragtige uitstallings, optredes deur plaaslike kunstenaars, ietsie spesiaals vir die kinders soos gesigverf en geskenkies, heerlike kos en nog vele meer. Indien daar nog uitstallers is wat belangstel, kontak asseblief dadelik. Volledige inligting in die volgende uitgawe van Die Kwêvoël. Vir alle navrae en besprekings kontak Rita by 083 7448559 of e-pos rivol@telkomsa.net