Jong gholfspeler wen Kampioen van Kampioene toernooi

THABAZIMBI – Verlede Saterdag, 30 Oktober, is die Kampioen van Kampioene toernooi te Thabazimbi Gholfbaan aangebied.

Die wenners van die verlede het geskitter in hul afwesigheid, maar bravo aan die paar wat wel daar was. Dit was ‘n warm 27 putjies Slagspel, maar wenners moet dit mos kan hanteer. Die jong Heinrich Penzhorn wen die Kampioen van Kampioene Toernooi met ‘n net 106. Willem du Plessis en Billy Pring deel die tweede plek met 107. Daarna is daar heerlik teruggesit om die rugby te geniet.

Die klub wens ook ‘n ander ou strydos, Bernie Gous geluk met sy Putjie-in-een op 28 Oktober op Rustenburg se nommer 13 putjie, dankie Bernie vir die gedetaileerde verslag daarvan… Volgens Bernie is dit al sy vyfde gelukhou. So ‘n hou bly altyd ‘n groot lekkerte vir ‘n gholfspeler.

Vandag, Vrydag 5 November, is die finale Interaksie gholf vir 2010. Al die spanne word uitgenooi om hieraan deel te neem. More, Saterdag 6 November, is dit die jaarlikse besoek van die Gauteng Noord se Gholfkomitee aan die klub. Na die oggend se gholf hou hul die laaste komitee-vergadering vir 2010. Op Donderdag 11 November reis die Sages al die pad na Potgietersrus om daar te gaan speel. Dis nodig dat Thabazimbi daar gaan speel, sodat hulle ook die Thaba Gholfdae kom ondersteun.

Vollie Volschenk