General

Asgate-tarief steeds gehef

THABAZIMBI – Verskeie inwoners van Thabazimbi het die afgelope tyd gekla dat hulle R40 moet betaal vir elke vrag vullis, tuin en gewone, wat hulle by Thabazimbi se asgate wil aflaai. Dit kom nieteenstaande die berig wat voorheen in Die Kwêvoël geplaas is dat hierdie heffing slegs van toepassing is op persone en instansies wat nie vir vullisverwyderingsdienste betaal nie. Dit sluit in boere, gastehuise buite die dorp en myngroepe.

Van die permitte wat aan inwoners uitgereik sou word het daar niks gekom nie. Die verwydering van vullis sorteer ook nie meer onder Tegniese Dienste nie, maar val nou onder Gemeenskapsdienste met Grace Rasepa as hoof. ‘n Besluit is blykbaar geneem dat almal wat van die terrein by die asgate gebruik maak, moet betaal. ’n Heffing van R40 is per bakkievrag betaalbaar en meer vir groter vragte. Rasepa was nie vir kommentaar beskikbaar nie aangesien sy nie die afgelope week op kantoor was nie.

Gert Snyman van die Belastingbetalersvereniging het Die Kwêvoël meegedeel dat daar in die Munisipaliteit se begroting nie voorsiening gemaak is vir die instandhouding van die asgate nie en dat ‘n onafhanklike kontrakteur deur die Munisipaliteit aangegestel is, sonder om die nodige tender prosedures te volg. Hierdie kontrakteur moet dus nou betaling ontvang waarvoor die Munisipaliteit nie begroot het nie. Dit is ook dan die rede dat daar ‘n fooi per vullisvrag by die asgate betaal word.

Inwoners word aangemoedig om by die Thabazimbi Belastingbetalersvereniging aan te sluit en om hul misnoë met hierdie swak administrasie deur onbekwame amptenary en raadslede van die Thabazimbi Munisipaliteit per brief deur te stuur na die Belastingbetalersvereniging wat dan die nodige aandag daaraan kan gee.

Vir verdere kommentaar kan die Belastingbetalersvereniging gekontak word by 0832951284 (Gert Snyman) of Jan Viljoen by 0833256057.