“Pienk Pretloop” lok groot getalle

Die dames wenners van die 10 km CANSA aandpretloop ten bate van Borskankermaand, was vlnr: M Viljoen in die derdeplek met ‘n tyd van 44 min, M Carstens in die eersteplek met ‘n tyd van 41min en L Lategang in die tweedeplek met ‘n tyd van 43 min.

THABAZIMBI – CANSA se aandpretloop het die afgelope drie jaar met rasse skrede gegroei en vanjaar het amper 500 deelnemers Borskankermaand ondersteun deur deel te neem.

Talle deelnemers het in pienk klere (Borskankermaand se tradisionele kleur) hul opwagting gemaak by die beginpunt voor Thaba Stereo op Woensdag 27 Oktober. Die pienk massa het by toeskouers en verbygangers geen twyfel gelaat oor die saak wat ondersteun is nie!

Drie jaar gelede het CANSA die aandpretloop van stapel gestuur met 129 deelnemers, verlede jaar was daar 193 en vanjaar ‘n rekord 494!

Altesaam 173 laerskoolleerders, 83 hoërskoolleerders en 236 volwassenes het deelgeneem.

Vanjaar het die “survivors”, wat kanker het en/of gehad het, die wedloop afgeskop. Daarna het die ernstige drawwers weggespring op die 10km-roete en laastens die pretlopers op die 5km-roete met stootkarretjies, pienk vere en klere, brille, toorstokkies en pittige sêgoed.

Die laerskool-wenners van die 5-km roete was Anrich Swart en Louise Schutte. Pieter Viljoen het die 10 km eerste voltooi. Die hoërskool-wenners was Sias van der Linde en Ronel le Roux in die 5km-afdeling en Alfred Tlhabadira in die 10km afdeling.

Die wenners van die volwasse afdeling was Martin van den Heever en Hendrien Erasmus vir die 5km-afdeling terwyl Theuns Koloi en Maryke Carstens die 10km gewen het.

Volgens die CANSA Pretloop organiseerders is hulle baie dank verskuldig aan hul borge, naamlik  Kumba, Kransberg Water, Spur, KFC, Wimpy, Soritzy Spa, Salon Classic Touch en Pick ‘n Pay.

Onmisbare dienste is gelewer deur die Thabazimbi CANSA vrywilligers, SAVF-vrywilligers, Die Kwêvoël, Thaba Stereo, CANSA Rustenburg, laerskool onderwysers juff Herma, Elmarie en Rita, Deo Volente Beddens en Active Life Gym.

Hennie Pauw