Skut hou Thaba se naam hoog
KAAPSTAD – Maryke Willemse ‘n Thabazimbi inwoner het ons naam hoog gehou by die negende IMSSU (International Metallic Silhouette Shooting Union) wêreldkampioenskappe wat tydens September/ Oktober 2010 op Atlantis skietbaan buite Kaapstad plaasgevind het.
Daar het 10 lande deelgeneem en Maryke Willemse was deel van die Suid Afrikaanse groep skuts wat aan die skietkompetisie deelgeneem het. Die standaard van die kompetisie was van die hoogste ooit en Frankryk het koning gekraai in al die handwapen afdelings en Finland het die geweer afdelings oorheers.
In die kleinkaliber rewolwer afdeling waarin 56 skuts deelgeneem het, het Maryke met ‘n telling van 38/40 ‘n negende plek behaal.
Die feit dat 18 vol tellings in die grootkaliber handwapen onbeperkte klas afdeling geskiet was, illustreer die hoë standaard en Maryke het met ‘n telling van 39/40 24ste uit 46 deelnemers in die afdeling geëindig.
Metaalsilhoeëtskiet het sy ontstaan vroeg gedurende die vorige eeu in Mexiko. Aanvanklik is lewende plaasdiere as teikens aangewend by Mexikaanse fiestas en later is staalteikens in die vorm van hoenders, varke, kalkoene en ramme gebruik.
Die teikens word op verskillende afstande geplaas en daar is verskillende afdelings waaraan ‘n skut kan deelneem, onder andere kleinkaliber gewere en handwapens asook grootkaliber gewere en handwapens.
‘n Punt word slegs toegeken indien ‘n teiken van sy staander afgeskiet word. Raakskote wat die teiken tref, maar nie laat omval nie, tel nie. Grootkaliber handwapens en grootkaliber gewere gebruik dieselfde teikens, maar die handwapens skiet vanaf 50 meter tot 200 meter en die gewere vanaf 200 meter tot 500 meter.
Kleinkaliber gewere skiet vanaf 40 meter tot 100 meter en kleinkaliber handwapens vanaf 25 meter tot 100 meter.
Op plaaslike Provinsiale en Nasionale vlak word kompetisies landwyd regdeur die jaar in verskillende provinsies aangebied waar wapens soos jaggewere, alle selfverdediging handwapens, oop visier gewere, hefboomaksie gewere en windgewere gebruik kan word.
Feitlik alle wapens behalwe haelgewere kan vir metaalsilhoeëtskiet gebruik word.
Mense wat belangstel om meer oor die sport te wete te kom kan Dawie Willemse skakel by 084 505 6777 of e-pos by dawiew@ekurhuleni.gov.za, of zapata357@gmail.com.