AfriForum se woordvoerder oor plaaslike regering, mnr. Cornelius Jansen van Rensburg, het in ‘n verklaring gesê dat dit duidelik is dat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Sicelo Shiceka, verwyderd is van die diensleweringskrisis op grondvlak. Dit volg nadat Shiceka tydens ‘n parlementsitting ontken het dat plaaslike regerings ten gronde gaan.
“Dit is verbysterend dat die regering die huidige krisis op plaaslike regeringsvlak as aanvaarbaar beskou, veral in kleiner dorpe waar die probleme die grootste is. In dorpe soos Dealesville en Winburg het inwoners nie toegang tot water nie. Indien die minister hierdie feite betwis, sal AfriForum gewillig wees om hom daarheen te neem,” het Jansen van Rensburg gesê.
“Waar was die minister in Junie vanjaar toe Eskom meer as 50 dorpe in die Vrystaat se elektrisiteit wou sny? Is die minister nie bewus van die uiters swak finansiële toestand van munisipaliteite nie? Indien hierdie gevalle nie gesien word as tekens dat plaaslike regerings ten gronde gaan nie, sal niks die regering daarvan oortuig nie,” het Jansen van Rensburg bygevoeg.
Die weiering van die regering om die stand van munisipale dienste as problematies te aanvaar, beklemtoon die feit dat gemeenskappe op georganiseerde wyse druk op plaaslike regerings moet plaas ten einde dienslewering te verseker. Jansen van Rensburg het gesê dat indien die regering nie die politieke wil het om te keer dat munisipaliteite disintegreer nie, moet die burgerlike samelewing tot die saak toetree.
Volgens Jansen van Rensburg verkeer die departement duidelik in ‘n toestand van ontkenning, en die feit dat die Zuma-regering hierdie tipe ingesteldheid duld, laat weinig hoop dat die ANC die diensleweringkrisis sal kan oorkom. “Die minister se oortuiging dat Suid-Afrika se munisipale dienste op ‘n aanvaarbare en relatief werkende vlak is, getuig van onbevoedheid en behoort hy in die pad gesteek te word,” het Jansen van Rensburg gesê.
