Ons lesers skryf – Uitstekende ambassadeurs vir HFM

(Brief oorspronklik gerig aan mnr Collin Camp bell, hoof van HFM)

Verlede week was ek saam met ‘n skool by Gold Reef City. Terwyl ons gewag het om in die “run away train” te ry, merk ons, as ek reg onthou, vyf pragtige jongmanne met mooi hemde aan. Aangesien ek self in die onderwys is, besluit ek om so bietjie geselskap by die manne te soek. Die eerste wat my natuurlik opgeval het, is dat die jongmanne so ordentlik met mekaar gesels het. Daar was geen luidrugtigheid by enige van hulle. Ek het eers mooi geluister na hul taalgebruik. Pragtige Afrikaans, met so hier en daar ons jongmense se spreektaal is gebruik, maar geen vloekwoorde was deel van hulle gesprek nie. Ek was uiteraard teleurgesteld met die feit dat van hulle die blou truie misbruik het om Bloubulle te wees, maar aangenaam verras met die uiters volwasse wyse waarop hulle met my, my vrou en ‘n kollega ‘n gesprek gevoer het. Die aanspreekvorm waarin hulle ons deurentyd aangespreek het, was veral opvallend. Geen ge-jy en ge-jou nie. Hulle het nie eens geweet wie ons is en wat ons doen nie. Die gesprek was volwasse en hulle het saam met ons geskerts. As ‘n man wat self in die onderwys staan, weet ek hoe hard onderwysers aan ons kinders moet werk om hulle op te voed. Dikwels word daar nog klappe na ons leerkragte uitgedeel. Ek wil vir u sê dat, as dit die spieël van u skool is, het u en u personeel regtig daarin geslaag. Welgedaan, personeel van Frikkie Meyer, u moet uself op die skouer klop. Ek wonder of ouers besef hoe gelukkig hulle is om hul kinders in u skool te hê waar waardes en dissipline ononderhandelbaar is. Uit die aard van my werk besoek ek baie skole en nooi ek die klakouse uit om my gerus te kontak sodat ek vir hulle kan vertel hoe ‘n swak skool regtig lyk.

Hierdie kinders het die leuse van u skool met waardigheid uitgedra: “Ons Onderneem”: Om ons ten alle tye te gedra, om altyd met respek teenoor ons meerdere op te tree, om ons onderwysers te eer en te respekteer, om te waardeer wat ons skool vir ons doen en om ons werk na die beste van ons vermoë te doen.  So kan ek aangaan, maar ek wil u nie verveel met dit wat u reeds weet nie. Sterkte aan Frikkie Meyer met die komende matriekeksamen. Mag dit ‘n 100% slaagsyfer wees.

Kollegiale-groete uit die goeie ou Vrystaat,
Jose Taylor