Bosluise, wat moet ‘n produsent weet van bosluise?

Daar is nagenoeg 860-plus spesies bosluise geïdentifiseer. In Suid Afrika is daar heel party van hulle teenwoordig maar, baie van hierdie bosluise is spesie-spesifieke bosluise. Dit beteken dat jy hierdie bosluis net op ‘n renoster, ‘n olifant, ‘n skilpad of ‘n enkelmaagdier  soos ‘n hond, rooikat, jakkals en ander sal kry.

Die ander bosluise, soos die twee spesies bloubosluise, (wat slegs galsiekte en rooiwater oordra, die bruinoorbosluis, (wat naas ore wat dit vernietig ook die draer is van Theileriosis,  Ooskuskoors en Buffelsiekte), die rooipootbosluis, (dieselfde siektes) die bont of hartwaterbosluis, (wat sowat 21 verskillende hartwaterstamme oordra) die Karooverlammingsbosluis, die hondehokbosluise (wat verwoesting op honde saai), die bontpootbosluise (wat sere en veral sweetsiekte) veroorsaak van ekonomiese belang.

Bosluise is baie belangrik in die Natuur, want dit is die Natuur se natuurlike manier om hierdie diere se immuniteitsisteem geaktiveer en te kry om natuurlike weerstandigheid teen siektes wat in die omgewing voorkom, “ingeënt” te kry.

Bosluise is ook deel van die voedselketting. Dit is ‘n Godgegewe organisme in die Natuur wat alles wat die mens teen hom ontwikkel het, oorkom het. Die wetenskap sal bewys dat hulle dit altyd sal kan doen.

Die vraag is, watter ekonomiese impak het bosluise op die veebedryf? Die algemene persepsie is die siektes wat bosluise oordra. Dit is rooiwater, hartwater, galsiekte en dan ook die onderskeie sere en wonde wat spykerwurms lok, velskade, ore wat afgevreet word, spene en geslagsdele wat opgevreet word.

Die tweede frustrasie wat ontstaan is die hoeveelheid tyd wat aan dip afgestaan word. Die arbeid wat benodig word, die koste van dipstof, toesig en dan die koste van die skade wat ontstaan as diere verloor word of ander veeartsenykundige kostes aangegaan moet word.

Die geld wat op bosluise uitgehaal word, beïnvloed die rede en denke van vele eienaars van wild en vee.

Die eienaars is reg, daar moet minder gif gebruik word. Die vraag is net wat is dit wat moet gebeur, wat is die regte ding om te doen en, wat is die toetsbare waarheid. Die produsent het ‘n reg om te weet dat die geld wat hy uithaal op bosluis en ander parasietbeheer soos rondewurms en vlieë; nie aktief verdere weerstandigheid sal veroorsaak teen die weerstandigheidsvlakke wat die bosluise, vlieë of wurms reeds getoets het nie; dat die allele of allomorffaktor begryp sal word;  dat die koste in produkte wat gebruik word, bosluise effektief en strategies kan en sal beheer;  bosluisgetalle strategies sal verminder dat aanteel en oorlewing verhoed kan word; natuurlike weerstandigheid by sy diere teen bosluisgedraagde siektes sal versterk; en dat bosluisbeheer in werklikheid ‘n sinvolle belegging is en dat daar baie minder gedip sal word.  Produsente in die Limpopo wat reeds met die wetenskap dip, se dipsiklusse het gedaal van 46 per jaar na 8 vir die totale jaar.

Hierdie stelling is natuurlik ‘n uitdaging wat bewys moet word.  Met graagte en hopelik later meer detail en kontaknommers.

Waaroor gaan bosluisbeheer dan?

Kennis van die produkte en die beperkinge van die produkte wat gebruik word om bosluise te beheer, is van groot belang in Strategiese Parasietbeheer.

Hoe meer bosluise aan die aktief van die dipstowwe blootgestel word, hoe vinniger selekteer hul hulself weerstandig daarteen.

Daar is net vyf chemiese groepe wat bosluise beheer en in Suid Afrika word hierdie 5 groepe in sowat 96 produkte op die rak aangebied. Die dipstowwe word verteenwoordig in; Formadiene, Organofosfate, Peritroiëdes, Makrolaktone en Groeireguleerders.

Waterbasisdipstowwe se nawerking is uiterste 3-4 dae, waarna hul effektiwiteit en beheer op bosluise totaal onbenullig word en moet die produsent, om weer beheer te kry, maar weer op dag 4 dip omdat hy slegs beperkte beheer op verskeie bosluisspesies gaan verkry.

Die belangrikste verlies weens bosluise, wurms en vlieë is die massaverlies wat hul veroorsaak,  naas al die ander skade en verlies.

Bloubosluise neem 0,3ml bloed in en inhibeer die dier se voeromsetting en groei en kan ‘n massaverlies van tussen 15-40 kg per speenkalf veroorsaak.

Bontbosluise, sou 10 wyfies per dag hul lewensiklus per dier voltooi, sal ‘n massaverlies van tot 20 kg per dier oor ‘n tydperk van 3 maande veroorsaak.

Bruinoorbosluise veroorsaak ‘n gemiddelde massaverlies van 4 gram per bosluis en tussen 15-30 kg per dier.

Horingvlieë veroorsaak ‘n gemiddelde massaverlies van tussen 12 -15 kg per dier.

Suid Afrika  huisves al hierdie parasiete en nog meer. Die ekonomiese impak van wurms en ander parasiete of peste sal later beskryf word.

Pierre van Niekerk