THABAZIMBI – ‘n Nuwe diensbestuur vir die SAVF Thabazimbi is verkies op 16 September vanjaar tydens die plaaslike SAVF-tak se Algemene Jaarvergadering.
Marianne Jacobs is as voorsitter aangewys, Marie Coetzee as ondervoorsitter en Christine Swart as sekretaresse. Die addisionele lede is Ernest Mphahlele, Dickson Makwenda, Jakkie Vos en Marie Scheepers.
Tydens die vergadering is baie lof uitgespreek teenoor die vorige diensbestuur onder leiding van ds Jannie du Plessis en ‘n uiters ywerige vrywilligerskorps. Hierdie span het baie struikelblokke in geleenthede en laagtepunte in hoogtepunte omskep.
Volgens Linda Grobler, kantoorhoof by die plaaslike SAVF-tak, kan hulle beswaarlik funksioneer sonder die 21 vrywillige helpers wat die kantoorpersoneel help met fondsinsamelingsprojekte en die sorteer en verpakking van voedsel- en klereskenkings. Hulle speel ook ‘n groot rol in uitreik-aksies, soos Kinderbeskermingsweek, waartydens 6500 kinders bereik is.
Lede van die hoofbestuur, dr Blanchè Verster en me Gloudine Smith van der Westhuizen, het die vergadering bygewoon, en inligting verskaf oor die verskillende rolspelers se funksies.
Die publiek word genooi om as vrywilligers aan te sluit. Teen slegs R10 per jaar registrasiefooi, kan enigeen deel word van hierdie vrolike groep helpers wat gemotiveerd is om uit te reik na hulpbehoewendes. Vir verdere inligting skakel 014 777 1093.
Hennie Pauw
