Hengel-uitdaging vir 16 Oktober se Jabulani kompetisie

THABAZIMBI – Die jaarlikse Jabulani hengelkompetisie, ten bate van Huis Immergroen, vind volgende naweek op Saterdag 16 Oktober plaas.

Volgens die organiseerders verloop die reëlings seepglad en sowat 300 meter Krokodilrivieroewer is afgestaan vir die kompetisie. Dus gaan daar nie meer in die damme gehengel word nie, maar in die rivier self. Heelwat spanne het al navraag gedoen en te kenne gegee dat hul aan die kompetisie gaan deelneem. Die inskrywingsfooi beloop R600 per span per pen en nie hengelaars betaal R50, inskrywings kan by die hek gedoen word.

Pryse vir swaarste karp, swaarste barber, swaarste kurper, swaarste sak en ook ander pryse kan op die dag gewen word.

Die hengelreëls is as volg: Penne gaan getrek word vir die drie persone per inskrywing, slegs drie persone per pen word toegelaat (penmaats), slegs persone wie vir die kompetisie ingeskryf het, mag in die rivier hengel, slegs twee stokke per hengelaar word toegelaat, geen bote, aasbote of kano’s word toegelaat nie, hengelaars mag tot onder-arm diepte in die rivier instap om ‘n vis te speel of uit te haal, op eie risiko aangesien daar ‘n moontlikheid van krokodille bestaan. Die organiseerders doen ‘n beroep op besighede en instansies om met die goeie saak te help en ‘n opponent of meer uit te soek en uit te daag. Daar is wonderlike pryse te wen vir die dag. Slegs ‘n beperkte aantal spanne kan geakkommodeer word. Vir navrae, kontak Jaco van Vuuren by 0824391440 of Fanie Venter by 0839796239.