General

Groot werk gedoen deur SAVF kantoor

Personeel van die plaaslike SAVF kantoor, asook provinsiale hoofde het die tak se aksies bespreek tydens ‘n jaarvergadering. Voor sit Gloudine Smit van der Westhuizen (links), die provinsiale diensbestuur koördineerder en Blanché Verster, Provinsiale Bestuurder. Agter van links is Linda Grobler, Christelle Barnard, Magda de Clerq en Rachel Rossouw van die plaaslike kantoor.

THABAZIMBI – Die uitbreiding van die personeel- en vrywilligerkorps van die SAVF het dié organisasie die afgelope jaar in staat gestel om ‘n enorme aantal persone, 65 197 altesaam, te bereik  in Thabazimbi.

Die maatskaplike kantoor het die afgelope jaar die meer as 65 000 mense bereik deur middel van gevallewerk, groepwerk en gemeenskapswerk. Altesaam 1 355 gevalle is gedurende die jaar hanteer, waarvan kinderverwaarlosing en – mishandeling die grootste deel uitmaak ná die materiële hulpdienste.

Die plaaslike maatskaplikewerkkantoor het tans vier amptenare in diens.  Die kantoor het ‘n nuwe maatskaplike werker, Magda de Clerq, in April hierdie jaar aangestel.  Sy is ‘n bekende gesig in die omgewing.  Die ander personeel is die senior maatskaplike werker/kantoorhoof, Linda Grobler, die student maatskaplike hulpwerker, Rachel Rossouw, en die administratiewe beampte, Christelle Barnard.

Met groepwerk is die steungroep vir substansmisbruikers weer op die been gebring met agt lede wat maandeliks 4 keer bymekaar kom.

Met gemeenskapswerk het die kantoor ‘n uitmuntende getal van 63 834 persone bereik in die jaar.  Ongeveer 50 000 persone word maandeliks bereik deur middel van ‘n radiopraatjie oor ‘n aktuele onderwerp met die maatskaplike werker.  Die orige 13 834 is kinders en persone wat bereik is deur middel van die verskeie gemeenskapsprojekte en programme van die kantoor.

So is daar byvoorbeeld sowat 6 500 kinders en 250 onderwysers bereik in 33 skole gedurende Kinderbeskermingsweek, 20 persone tydens die stigting van Xtreme Adventures (vir gestremdes), 1 022 persone tydens Projek Winterhoop, 9 persone met oorlewingspakette gehelp, 50 persone bereik met die Teddiebeer Projek, 2 000 bereik tydens die 16 dae van Aktivisme teen vroue en kinders, 1 400 met gesinsdag en 1 775 tydens ‘n uitreikprogram.

Die kantoor bereik veral baie goeie resultate tydens Kinderbeskermingsweek wanneer poppekaste en praatjies aangebied word. Die SAVF doen dit in samewerking met ander organisasies en noem hulself die “Child Protection CARE Group” (CARE staan vir Consider All, Remember Everyone).

Volgens Grobler, fasiliteerder van die projek, benodig hulle elke jaar hulp van vrywilligers om die projek uit te voer en nooi sy enigiemand in die gemeenskap wat graag met kinders wil werk en ‘n verskil wil maak om aan te sluit en ‘n vrywilliger te word. Kontak gerus die kantoor weeksdae by 014 777 1093 of by savftbz@telkomsa.net.

Hennie Pauw