General

Energiebewustheid kan kans op huiseienaarskap verhoog

Stygende energiekoste soos hoër elektrisiteitsrekenings is vir almal ‘n kopseer – en veral vir verbruikers wat die eiendomsleer wil bestyg.

Maar, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, sekere stappe sal help om hul drome ondanks duur krag te verwesenlik.

“Die eerste stap is om ‘n groter huisdeposito te spaar deur eiendom te huur wat energiedoeltreffend is en jou dus minder per maand gaan kos.

“Kies ‘n huureenheid met ‘n afsonderlike elektrisiteitsmeter eerder as ‘n gedeelde meter – en verkieslik ‘n meter wat jy met vooruitbetaalde krageenhede kan laai. Dit sal jou help om jou eie besteding aan elektrisiteit beter te beheer.

“Tweedens behoort jy ‘n eenheid te kies waar die eienaar in energiebesparende maatreëls, soos behoorlike insulering, ‘n sonwaterverwarmer en straks ‘n gasstoof, belê het. Dit sal jou help om jou maandelikse kragbesteding selfs verder te beperk.”

Tweedens, sê Everitt, moet jy op energiebesparing ingestel wees wanneer jy begin soek na ‘n huis om te koop.

“Baie eerste kopers verkies pasgeboude eenhede omdat hulle aanneem dat sulke huise outomaties meer energiedoeltreffend is. Maar dis nie noodwendig waar nie en jy behoort nie ouer huise wat straks opgeknap is om meer energiedoeltreffend te wees oor die hoof sien nie.

“As jy bestaande huise besigtig behoort jy vir afskrifte van die munisipale kragrekenings vir die afgelope jaar te vra sodat jy vergelykings kan tref om te bepaal watter huis die mees energiedoeltreffende is.

“Wat jy nie wil doen nie is om ‘n ‘winskoop’ op te raap net om elke maand ‘n fortuin aan elektrisiteit te bestee – en boonop is dit tot jou voordeel indien die geraamde maandelikse munisipale rekening so laag moontlik is aangesien banke dié syfer deesdae in berekening bring wanneer hulle bepaal of jy vir ‘n huislening kwalifiseer of nie.”

Uitgereik deur Chas Everitt International