General

Misdaad daal nie in Limpopo

Thabazimbi – Die feit dat die minister van polisie soveel gewag gemaak het van misdaad wat gedaal het in die RSA die afgelope boekjaar, hou nie veel water in vir die Limpopo provinsie nie. Die pas vrygestelde misdaad statistiek het 20 ernstige misdaad neigings uitgelig en toegelig.

Die breë groep misdade sluit in kontak en -verwante misdade. Dan is eiendom verwante misdaad en ander ernstige misdade uitgelig en misdade wat steun op polisie ondersoek. In die 2008/2009 boekjaar is 2,098, 229 misdaad voorvalle in die RSA geregistreer.

Daarvan was rofweg een derde (32,7%) kontak verwante misdade, 26,3% ernstige misdade en 25,4% eiendom verwante misdaad en 8,9% & en 6,7% misdaad wat sterk gesteun het op polisie ondersoek en optrede.

Moord in Limpopo het gestyg van 12,9 in 2008/2009 na 14,2 in 2008/2010 ‘n styging van 10,1% en seksuele misdade het gestyg van 83.8 tot 88.8, ‘n styging van 6%. Poging tot moord het  met slegs 0,07% gedaal van 13,4 in 2007/2008 na 13,3 in 2008/2009.

Statistiek kan op verskeie maniere vertolk word. Soms is dit handig om ‘n tendens te bespeur maar soms kan dit ook aangewend word om ‘n vals beeld voor te hou. Dit wil voorkom asof laasgenoemde presies is waarmee die polisie besig is. Ernstige aanranding daal met 0,9% van 253 na 250,6.

Aanranding gewoon daal met 9,4% maar roof met verswarende omstandighede styg met 17,9% van 45.3 tot 53.4. Daarteenoor daal roof gewoon met 9,2% van 69.6 na 63.2. Brandstigting styg met 4,7% van 10.6 na 11.1. Kwaadwillige beskadiging van eiendom daal met 2,4% van 127.4 na 124.4.

Inbrake by huise styg met 7,1% van 219.5 na 235. Inbrake by besighede styg egter ‘n ongelooflike 20,3% (‘n duidelike bewys aan gebrek van sigbare polisiëring soos sigbare patrollies) en motor diefstalle daal met 8,4%. Diefstalle uit motors daal met 5,1% en veediefstalle styg weer met 10,9% van 24.8 na 27.5.

Dwelmverwante misdade styg skerp met 6,3% en bestuur onder die invloed van drank of dwelms skiet hemelhoog met 41,3%! Kommersiële misdaad styg met 22,4% en winkel diefstal styg met 26,4%. Die enigste provinsie waar die getal moorde noemenswaardig gedaal het was die Wes-Kaap met ‘n afname van 23,9% teenoor die 10,1% styging in Limpopo.

Een ligpunt vir Limpopo is dat seksuele misdade en aanranding gewoon die laagste is van die nege provinsies. Voertuig skakings in Limpopo het dramaties gestyg met 42,2%  van 203 na 289. ‘n Bekommerenswaardige styging is die van huisrooftogte in Limpopo. Die getal rooftogte styg 61,1% van 319 tot 514!

In die Noord-Kaap, Vrystaat en Mpumalanga het huisrooftogte met meer as 100% toegeneem! Dit is opsigself sprekend dat die polisie nie meer die misdaad statistiek afbreek tot per individuele polisiestasie nie. Dit kan die indruk laat ontstaan dat ‘n poging aangewend word om swak presterende polisiestasies te beskerm.

Tobie Lombard