Interkleuter Atletiekdag oor 2 weke

THABAZIMBI – SmartBrain Kidz bied weer ‘n Interkleuter Atletiekdag op 9 Oktober te Laerskool Thabazimbi se atletiekveld aan.

‘n Aantal plaaslike kleuterskole, onder andere CVO se kleuterskool, Laerskool Thabazimbi se Tjokkerskool, Laerskool VanWykskraal se kleuterskool en SmartBrain Kidz sal deelneem aan reguit-afstande, swartmotorfietsresies en Monkey Nastix en JellyTots items. Die verrigtinge begin om 08:00 wanneer elke skool die geleentheid sal kry om ‘n optog te hou met sy eie vlag en liedjie. Die atletiekdag behoort die kleinspan tot ongeveer 12:00 besig te hou. Vir al die energieverbranding sal daar ‘n verskeidenheid kosstalletjies wees, onder andere hamburgers, worsrolletjies en roomys. ‘n Noodhulp stalletjie word voortdurend beman en elkeen wat aan hierdie sportdag deelneem stap weg met sy eie medalje. Die toegangskoste beloop R20 per volwassene, R10 vir kinders, terwyl kleuters gratis ingaan. Vir navrae, kontak Marthie du Plooy by 082 570 3644.