Tjokkerdag by Gholfklub

THABAZIMBI – Dean Cilliers met ‘n netto telling van 68 was die wenner van Saterdag se slagspel. Esmé Behrens en Sarel Marais met 69 en Rudi Conrad met 71 was die ander wat pryse gewen het. Die beste bruto telling was 72 wat deur Johan Smit van ‘n 0 voorgee gespeel is.

Hierdie Saterdag, 18 September is dit die Tjokkerskool se borgdag. Dit is nou die voorskoolse groep van die Laerskool wat fondse vir hulle skool wil insamel. Spelers kan gerus hierdie dag ondersteun.

Die groot toernooi wat vroeg volgende maand aangebied gaan word is die Bielie van die Bosveld. Dit gaan op 9 en 10 Oktober gespeel word en die veld gaan tot 120 spelers beperk word. Inskrywings moet vroegtydig by die klub gedoen word want daar word heelwat besoekers vanaf Pretoria verwag. Die dag word deur die Pro Shop geborg. Spelers moet ‘n amptelike voorgee hê om deel te neem.

Met die oorskakeling na die nuwe voorgee-stelsel het lede se besonderhede verlore geraak. Daar is nou ‘n lys by die klub waarop lede asseblief hulle besonderhede moet invul sodat die stelsel weer volledig opgedateer kan word.

Die klub se telefoon was die afgelope tyd buite werking. Daar is blykbaar kabels gesteel. Indien u dringend telefonies met die klub in verbinding wil tree kan u Irma op haar persoonlike selnommer (083 742-0297) of kroegman Caldon (076 614-4238) skakel. U kan dit ook doen om u verlore inligting deur te gee.

Onthou asseblief dat u voorgeekaart volgende maand geblokkeer (Hotcard) gaan word as u ledegeld nie betaal is nie.