Thabazimbi Medi-Clinic vier hartmaand

THABAZIMBI – In die gees van Nasionale Hart Bewustheidsmaand en Wêreld Hart-dag op 26 September, bied Thabazimbi Medi-Clinic vandag, Vrydag 17 September om 11:00 – 14:00 gratis bloeddruk- en cholesteroltoetse voor Thaba Superspar aan. Diegene wat van hierdie diens gaan gebruik maak, sal ook algemene inligting in hierdie verband kry.

Jou lewe kan letterlik binne ’n hartklop verander. Hartsiekte is een van die hoofoorsake van sterftes in Suid-Afrika, en dit tref geen onderskeid tussen mense nie. Hartsiekte het eens op ’n tyd amper uitsluitlik onder wit, middeljarige mans voorgekom, maar deesdae kan dit enigiemand op enige ouderdom tref. Dit is grootliks te wyte aan ’n sittende leefstyl, swak dieet en die stres wat met ’n moderne leefstyl gepaard gaan. Die hoofoorsaak van hartsiekte is arteriosklerose, waar ’n vetterige neerslag binne-in die slagaar aanpak. Dit lei tot die vernouing van die are, wat die vloei van suurstofryke bloed na die hart beperk. Wanneer die are te nou word, of wanneer ’n klont vorm, vind ’n hartaanval plaas, wat ’n gedeelte van die hart beskadig. Wie loop ’n risiko? Enigiemand wat:  ’n familie- of persoonlike geskiedenis van hartsiekte het, hoë cholesterol het (>3 mmol/L), hoë bloedsuikervlakke het (>100 mg/dL), hoë bloeddruk het (>130 mmHg), hoë vlakke van trigliseriede het (>1.7 mmol/L), abdominale vetsug het (>102 cm vir mans en >88 cm vir vroue), insulienweerstandig is, liggaamlik onaktief is en rook. Wat is die tekens van ’n hartaanval? Swaar druk, beklemming, drukkende pyn of vreemde ongemak in die middel van die borskas; ’n Ongemak soortgelyk aan slegte spysvertering wat 15 minute of langer duur, verdwyn en dan later weer terugkeer; Pyn in die skouers, arms, nek of selfs in die kaak; Sweet, naarheid, floute of kortasemrigheid en soms ’n vinnige, swak pols. Die goeie nuus is dat die hart feitlik onmiddellik ná ’n hartaanval begin genees en, alhoewel daar letselweefsel op die beskadigde gedeelte sal wees, kan jy die kans dat dit weer gebeur, verminder deur sekere belangrike lewenstylveranderings te maak, soos byvoorbeeld: Volg ’n gesonde eetplan wat laag in versadigde vette en hoog in graansoorte, vrugte, groente en maer proteïen is, ken jou liggaam. Laat gereeld jou middellyf se omtrek, asook jou bloeddruk-, bloedsuiker-, cholesterol- en trigliseriedvlakke toets, hou op rook, onthou, jou hart is ’n spier en benodig oefening om gesond te bly. Daarom word ’n mate van liggaamlike aktiwiteit ten minste drie tot vier keer per week aanbeveel.

Thabazimbi Medi-Clinic het amptelik van naam verander nadat die aandele wat deur Protector besit was amptelik deur die Medi-Clinic groep oorgekoop is. Die groep bestuur 52 hospitale in Suid-Afrika en Namibië en het ook ‘n internasionale platform in Switserland en die Emerate.

Volgens Charline van der Walt, Verpleegdiensbestuurder is hul trots om dan nou amptelik deel van die Medi-Clinic groep te wees.

– Uitgereik deur Medi-Clinic Privaat Hospitaal Groep