Pro Bow Boogklub: Weer die meeste toekennings per klub

Die Pro Bow Boogklub-skuts wat aan die SABA kompetisie te Pretoria deelgeneem het. Vlnr: Jaco Swanepoel, Renaldo Nortjé, Hano Swanepoel, Malan Hermann, Antoinette Hermann, Petro van Reenen, Henk Engelbrecht, Yolandé Rudolph, Quintin Jansen van Vuuren en Johan Rudolph. Afwesig: Leon Du Plessis. (Fotograaf: Ben Nortjé).

PRETORIA – Op Saterdag 11 September was die sewende SABA (South African Bow Hunters Association) kompetisie van 2010 te Hornsnek (Rondawelsrus), Pretoria aangebied.

Die span het 05:00 die oggend uit ‘n warm Thabazimbi vertrek. Met hul aankoms in Pretoria was dit egter ‘n klimaat van ‘n ander aard. Die winderige, koue, bewolkte weer het die skuts laat wonder of dit ‘n herhaling gaan wees van die “ysreën” wat hul verlede jaar trotseer het in Alberton. Gelukkig het die bewolktheid later deur die dag begin opklaar, en het die wind bietjie bedaar met tye. Dit was ‘n uitdagende baan, en sommer oppad na die eerste teiken, moes die skuts al deur ‘n vleiland ploeter. Die eerste skote is met waternat skoene afgevuur. Pro Bow Boogklub se 10 skuts het egter die dag deurgedruk en al 20 teikens aangedurf. Almal is dit eens dat dit ‘n dag vol avontuur was en dat elkeen waardevolle ondervinding opgedoen het.

Pro Bow Boogklub, Thabazimbi het met ses medaljes en ses “bo 80%” sertifikate, huiswaarts gekeer, wat die meeste toekennings per klub vir die dag was.

Twee Juniors, Quintin Jansen van Vuuren en Jaco Swanepoel het vir bietjie opwinding gesorg deur 100% te skiet. Met die vorige kompetisie het beide gespog met 11 hartskote elk en moes daar ‘n uitskiet kompetisie gehou word tussen die twee, waarop Quintin die eersteplek verower het, en Jaco die tweedeplek ingeneem het. Hierdie keer het Jaco die eersteplek verower met ses hartskote terwyl Quintin die tweedeplek met vier hartskote ingeneem het. Die uitslae vir die dag is as volg:

Medaljes: Petro van Reenen – eersteplek (100%) – Snr. Female – Mechanicals; Antoinette Hermann – eersteplek – Snr. Female – Broad head; Jaco Swanepoel – eersteplek (100%) – Jnr. Male – Broad head; Renaldo Nortjé  – eersteplek – Jnr. Male – Mechanicals; Quintin Jansen van Vuuren  – tweede (100%) – Jnr. Male – Broad head; en Hano Swanepoel – tweedeplek – Jnr. Male – Mechanicals.

Sertifikate vir 80% en hoër: Henk Engelbrecht – 88%; Malan Hermann – 82%; Petro van Reenen – 100%; Antoinette Hermann – 88%; Jaco Swanepoel – 100%; en Quintin Jansen van Vuuren – 100%.

Die volgende SABA kompetisie vind op Saterdag 2 Oktober te Potchefstroom plaas. Die boogklublede en -vriende kom elke Donderdagaand vanaf 17:00 bymekaar vir skiet-oefening en samesyn, u hele gesin is welkom. Belangstellende persone kan vir Henk Engelbrecht (0837073691), Hein Holtshauzen (0837013039) of Hannetjie Engelbrecht (0736749956) skakel vir meer inligting.