President Zuma besoek Orania

President Jacob Zuma het die Afrikanergemeenskap van Orania in die Noord-Kaap op Dinsdagoggend 14 September 2010 besoek.

Dit volg nadat die President reeds voor verlede jaar se algemene verkiesing aangedui het dat hy Orania wil besoek ten einde vas te stel hoe Orania gemeenskapsontwikkeling op ‘n selfstandige wyse bedryf.

Dit is veral die manier waarop Orania  se selfstandige plaaslike regering funksioneer en die manier waarop ekonomiese ontwikkeling in die gemeenskap gedryf word, wat President Zuma tydens ‘n gesprek in 2009 laat besluit het dat hy Orania wil besoek.

President Zuma wil  in besonder met professor Carel Boshoff, die leierfiguur agter die totstandkoming en ontwikkeling van Orania die afgelope 19 jaar, vergader, waarna hy  op ‘n toer deur die dorp geneem is om te sien hoe onderrig, opleiding, arbeidsvoorsiening, behuising en industrieë soos landbou en toerisme in Orania bedryf word.

Professor Boshoff ervaar die afgelope tyd gesondheidsprobleme. President Zuma en prof Boshoff ken mekaar al  minstens twee dekades lank.

President Zuma sal ook die tweede staatshoof wees wat Orania besoek. President Mandela het Orania tydens sy termyn as president ook besoek.

Die leierskap van Orania het die geleentheid om President Zuma aan Orania bekend te stel, verwelkom.

Carel Boshoff (iv), voorsitter van Orania se Dorpsraad beskou President Zuma se besoek as ‘n deurbraak vir die gemeenskap wat die afgelope paar jaar met groot sukses ‘n model van plaaslike ontwikkeling daargestel het waaruit baie ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe waarde kan put.

“In Orania fokus ons daarop om vir die Afrikaner ‘n toekoms aan die suidpunt van Afrika te verseker. Ons doen dit ten bate van Afrikaners in die algemeen en nie ten koste van enige ander Suid-Afrikaner nie.

“Ons doen dit deur met eie kapitaal, eie arbeid en eie inisiatief ‘n meer selfstandige en volhoubare gemeenskap te ontwikkel. Indien meer Suid-Afrikaanse gemeenskappe hierdie model van selfstandige ontwikkeling kan navolg, kan probleme soos armoede en werkloosheid baie meer doeltreffend aangespreek word.  Orania is ‘n beginpunt en nie ‘n eindpunt nie.”