Entertainment

Donker vang Rudi en Corlea

THABAZIMBI – …en skielik is dit donker – so in die middel van ‘n noot.

Diegene wat Woensdagaand die vertoning van Rudi & Corlea in die Laerskoolsaal bygewoon het, sal presies weet wat bedoel word.

Met dié skrywe word een en elkeen wat daar was, dankie gesê. Dankie vir die rustigheid en goeie gees waarmee die situasie aanvaar is. Dankie vir Hannes Coetzee wat soos gewoonlik op sy voete dink en binne vyf minute was die hele plek vol kerse wat die saal omgetower het in ‘n sprokiesland. Selfs die snoepie het by kerslig gefunksioneer. Dankie vir elkeen se hulp, Franco met sy towerflits en Gary wat dadelik die stadsraad gekontak het om uit te vind wat aangaan en ons op hoogte gehou het. Dis jammer dat die vertoning toe nie kon voortgaan nie, maar te oordeel aan al die positiewe terugvoer wat ontvang is, het almal dit besonder baie geniet. Volgende jaar word daar weer plan gemaak.

‘n Vriendelike versoek aan die gemeenskap:  kom ondersteun ook asseblief vir Blackie Swart in die KunsteGrot op 22 September om 19:00. ‘n Baie spesiale aand word belowe. Onthou, al die kunstenaars word vir ons mense gereël – ons kan net daarmee voortgaan indien die ondersteuning daar is.

Kontak Rita by 083 744 8550 vir besprekings.