Bosveld Akademie hou dinee saam met Bobby

Bobby van Jaarsveld het die gehoor vermaak met ‘n uitstekende vertoning en het almal, veral die skoner geslag, aan sy lippe gehad.

SETARIA – Bosveld Akademie Privaatskool het hulle jaarlikse dinee met groot sukses op Vrydag 10 September te Setaria Sportklub aangebied en weer nuwe lewe aan die 60’s gegee.

Die 250 gaste het behoorlik uitgehang vir die geleentheid, maar die aand het verdere verrassings opgelewer met die puik vertoning van Bobby van Jaarsveld, wat al die dames aan sy lippe gehad het en die manlike geslag wat ritmies op die maat van sy musiek saggies saam gesing het. Die aand het gepaard gegaan met ‘n fondsinsameling vir Bosveld Akademie en verskeie items is opgeveil, onder andere ‘n bottel wyn vir ‘n skaflike R23 000. Die bottel wyn word elke jaar weer vir die veiling beskikbaar gestel. Die aand het gespog met fondse van R94 000, waaronder Bobby se denimbroek ook opgeveil is. Die fondse sal aangewend word vir bedryfsuitgawes en projekte waarmee die skool tans besig is. Volgens die organiseerders werk Bosveld Akademie hard om hulle skool en skoolgronde te onderhou en net die beste vir die leerlinge aan te bied.