Luggeweerskut toer na Engeland

THABAZIMBI – ‘n Leerling van Frikkie Meyer, Renaldo Nortje, is op 1 Mei 2010 in Kimberley gekies as deel van ‘n  Suid-Afrikaanse span wat in Engeland aan die British Junior International Skiet-kompetisie deel geneem het.

Hierdeur het hy SANSSU-kleure (Suid-Afrikaanse Nasionale Skoleskuttersunie) verwerf. Die span het Engeland vanaf 1 tot 15 Augustus 2010 besoek om deel te wees van hierdie belangrike kompetisie wat jaarliks aangebied word. Renaldo het dan ook met trots en as ambassadeur van sy land, provinsie en skool gaan deelneem. Hy het hom goed van sy taak gekwyt en spog met drie medaljes. Hy en sy span het in twee kompetisies ‘n tweedeplek behaal en ontvang daarvoor silwer medaljes.  Hy het in drie individuele kompetisies onderskeidelik ‘n derdeplek (waarvoor hy ‘n brons medalje ontvang), ‘n vierdeplek en ‘n sesdeplek behaal. Die toer was vir hom ‘n wonderlike ondervinding, maar ook ‘n goeie leerskool in die lewe.