Boeremusiekgilde hou makietie

Die Kemptonparkse JABO junior orkes onder leiding van Christo Wolmarans en Erna Cronning bewys dat ons jeug ook boeremusiek sal laat voortleef.

LEEUPOORT – Die Boeremusiekgilde Leeupoorttak het op Saterdag 4 September 2010 ‘n uiters suksesvolle boeremusiekfees aangebied en die karavaanpark by Leeupoortvakansiedorp  het behoorlik gedreun van al die orkeste.

Vanaf die oomblik dat ds Heny de la Qerre die opening om 08:30 waargeneem het, tot met die sing van die laaste lied tydens die dankdiens op Sondag wat waargeneem was deur ds Piet Grobler en die bekende konsertinaspeler Kassie Kasselman en sy twee seuns, het die meer as vyftig verskillende musikante waarvan 20 konstertina spelers is, die skare telkens op hulle voete gehad. Om enige orkes uit te sonder, sou werklik ‘n groot sonde wees, daar was van die land se beste musikante wat aan die program deelgeneem het.

Daar was ‘n baie goeie interaksie tussen die musikante wat bygedra het tot ‘n luisterryke geleentheid.

Die bekende Gert van Tonder van Groep 2 het as gaskunstenaar opgetree en het ook ingewillig om as beskermheer vir die Boeremusiekgilde se Leeupoorttak op te tree. As gevolg van die geweldige applous wat hy uitgelok het, bewys dit weereens dat hy nogsteeds ‘n gewilde afrikaanse sanger is.

Nog ‘n hoogtepunt van die fees was die optrede van Pierre Retief, die ere-president van die Boeremusiekgilde, wat weereens op sy bekende tradisionele styl die boeremusiekliefhebbers vermaak het.

Die Bushveld Babes het ‘n onverwagse kabaret aangebied wat groot byval gevind het en volgende jaar sal hulle beslis weereens ‘n item lewer.
Volgens Wessel Potgieter, die voorsitter van die Noordstreek, was Saterdag se fees die mees geslaagde en grootste fees wat nog deur ‘n tak aangebied was.

As gevolg van die groot sukses van die fees, kondig Pieter Bodenstein en sy span aan dat die volgende nasionale boeremusiekfees, die eerste naweek van September 2011, weer te Leeupoort aangebied gaan word.