Beesboer wen snotsiekte eis

LEPHALALE – Die stryd tussen bees- en wildboere rondom die snotsiekte-vraagstuk woed al dekades. Verlede week het Abraham Pelser, ‘n stoetteler van Steenbokpan, ‘n oorwinning vir beesboere behaal. ‘n Skikking is bereik nadat hy ‘n eis teen ‘n buurman, Du Plessis trust van die plaas Mimosa Park ingestel het vir die verlies van beeste aan snotsiekte gedurende die afgelope twee jaar.

Hy het ‘n ooreenkoms gehad met Piet du Plessis wat mondeling beloof het om hom te vergoed, indien enige van sy diere aan snotsiekte sou vrek, maar na sy dood het die trust nie die ooreenkoms eerbiedig nie. Pelser het gevoel hy het geen keuse gehad nie, aangesien hy meer as ses diere, waaronder waardevolle stoetkoeie aan snotsiekte verloor het.

Jannie Lewies, ‘n prokureur van Lephalale wat reeds voorheen sukses in ‘n soortgelyke saak behaal het, het sy saak hanteer. “Ons het meriete en kwantum (geldelike waarde) van die saak bewys en ‘n skikking is bereik. Nog ‘n groot oorwinning is die feit dat albei paryte binne ‘n maand ‘n verdere ooreenkoms moet sluit met die oog op toekomstige verliese,” vertel Jannie Lewies. Ten spyte van die ander kant se advokaat en prokureur, was hulle saak sterk genoeg om die skikking te bereik.

Pelser is dankbaar hieroor: “Baie dankie vir hulle bereidwilligheid om die R 60 000 ex gratia te betaal ter vergoeding vir die verlies van my beeste wat gevrek het aan die snotsiekte wat hulle opgedoen het van hulle blou wildebeeste.”

Hy het ook sy dank betuig aan dr Wiese van Veeartseny wat die toetse op die diere oor ‘n twee jaar periode gedoen het en bereid was om vir hom te getuig.

Volgens dr Wiese behoort elke beesboer wat kan bewys hy het verliese weens snotsiekte te eis. Die siekte is tans baie onder–aangemeld omdat die inkubasie tydperk tussen 28 en 95 dae is. “Mense besef nie dat ‘n uitbraak meer as twee maande kan duur vandat die eerste diere siek word nie.

Diere vrek ook nie op ‘n hoop nie en daarom is dit nie altyd maklik om elke karkas te laat ontleed nie. Dit is egter noodsaaklik om die nodige bewyse te kry,” verduidelik hy. Snotsiekte kan bewys word deur ‘n nadoodse ondersoek op die organe. Dit is ‘n baie spesifieke toets wat uiters betroubaar is, sê Wiese. ‘n Verdere bloedtoets kan ook gedoen word wat bewys dat die snotsiekte van blouwildebeeste afkomstig is. ‘n Rare stam van die siekte kan ook van skape afkomstig wees.

Vir ‘n eis om suksesvol te wees, moet die beesboer dus kan bewys diere is aan snotsiekte afkomstig van blouwildebeeste dood.

Pelser hoop om in die ooreenkoms wat spoedig opgestel sal word, ‘n buffersone gespan te kry van ten minste een kilometer tussen sy plaasgrens en die blouwildebeeste. Dit is volgens Wiese ‘n aanvaarbare afstand om infeksie te voorkom. ‘n Ander aanvaarbare opsie sou wees dat die blouwildebeeste verwyder moet word. Enige verdere vrektes sal ook vergoed moet word.

Elana Greyling