Romanz toer saam met die Drakensbergse Seunskoor na ATKV-Klein-Kariba
Die baie gewilde Afrikaanse musiekgroep Romanz snoer in September kragte saam met die internasionaal bekende Drakensbergse Seunskoor en besoek die ATKV-Klein-Kariba Vakansieoord op 13 September om 19:00. Hierdie kombinasie gaan sorg vir ‘n musiekervaring soos min! En dis hierdie keer ook beskore vir plattelandse musiekliefhebbers!
Die Drakensbergse Seunskool is die enigste koor-skool in Afrika, en is in 1967 gestig. Altesaam 100 seuns tussen die ouderdomme van 9 en 15 jaar word jaarliks hier onderrig. Bekende oud-leerlinge sluit in Zwai Bala, een van die bekende Bala-broers, en die internasionaal bekende bariton Jacques Imbrailo.
Die Drakies, soos hulle in die omgang bekend is, het al opgetree by die Huisgenoot Skouspel van 2007, en het ook al saam met Luciano Pavarotti gesing tydens sy Suid-Afrikaanse besoek in 2005.
Die koor het al opgetree in die VSA, Europa, Japan, China, Taiwan, Hong Kong, Mauritius en talle Afrika-lande.
Romanz is skaars twee jaar oud, maar vinnig besig om een van die gewildste Afrikaanse boybands te word. Hulle is in 2009 met ‘n Tempo-toekenning bekroon as beste nuweling op die musiektoneel, en hulle debuutalbum het in minder as ‘n jaar platinumstatus bereik met verkope van meer as 40 000.
Hulle het ook vroeër vanjaar ‘n gospelalbum vrygestel, en is ook genooi na Skouspel later vanjaar. Voorwaar vier manne om dop te hou!
Kliek op http://www.dbchoir.info vir besonderhede van elke optrede asook kontaknommers vir besprekings. Ilse Schürmann (082 851 7157) sal ook graag meer inligting verskaf.