Junior looi seniors
THABAZIMBI – Saterdag se gholf hier plaaslik was Bonus Syferspel en Jannie van Graan, die jongere, wen met ‘n allemintige +6. Sy ma, Louise, was tweede met ‘n +4. Goed gedoen die van Graans. Marina van der Wateren, Alta Venter en Derek Torlage eindig op 0.
Op Mooinooi was daar liga gespeel. Johan Barnard, Johan Smit, Eugene Oberholzer, Sarel Marais, Billy Pring, Bernie Gous, Tiaan Bronkhorst en Christof Penzhorn was die manne wat daar teen Mooinooi gespeel het. Mooinooi het die tuisbaan voordeel goed gebruik en wen 3-1.
Een van die klub se mees gewaardeerde lede, Derek Torlage, tree volgende week af. Hy was vir 20 jaar landdros hier op Thabazimbi en ook lid van die gholfklub. Hy was ook verskeie jare die klubkaptein. Derek en sy vrou gaan daar aan die Oos-Kaap aftree en die klub wens hom en Annemarie ‘n baie gelukkige aftrede toe. Hy sal terdeë gemis word.
Hierdie naweek is dit die Steelwings Motorfietsklub se borgdag. Dit beloof ‘n baie goeie dag te wees.