Entertainment

Boeremusiekgilde, Leeupoort-tak hou musiekfees volgende naweek

Boeremusiek-liefhebbers moenie Die Vastrap orkes se optrede op Saterdag 4 September tydens die jaarlikse Boeremusiekfees misloop nie. Die lede voor vlnr: Flip Venter Banjo en Coen Groenewald Ritme kitaar. Agter vlnr: Eddie Owen (konsertina), Frans Coertse (baskitaar), Daan J van Vuren (leier ritmekitaar) en Daan Maloney (leier kitaar).

LEEUPOORT – Volgende naweek, 3-5 September, word daar weer groot makietie gehou wanneer ‘n verwagte 2000 mense gaan saamtrek om die bestaan van boeremusiek te vier.

Die Boeremusiekgilde is gemoeid met die uitbouing van Boeremusiek in al sy vorme en dien as ‘n klankbord vir musikante om hulle te help om geleenthede te vind waar hulle hul talente kan tentoonstel en blootgestel kan word aan gesonde mededinging terwille van Boeremusiek.

Saterdag 4 September het ‘n vol program vanaf 09:00 by die Woonwapark en spog met ou staatmakers soos Nico van Rensburg en Manie Bodenstein wat gaan optree, sowel as gaskunstenaar Gert van Tonder van Groep 2. Nuwelinge op Leeupoort is Jannie Cilliers: Saagspeler, Hekkie de la Guerre – meester op kitaar, Die Groot 5 (konsertina spelers) en die Vastrap Boereorkes. Die Vastrap Boere Orkes is in 1960 deur Oom Bronkie Bronkhorst (Joe Hein Frikkie Broodryk) gestig. Na baie skommelinge oor die jare, sluit hul in 2004 by die Boeremusiekgilde Klub aan.

Die orkes is goed opdreef en reeds ‘n tweede CD opgeneem wat binnekort beskikbaar sal wees.

Die fees word geopen deur Ere-President van SA Boeremusiekgilde, Pierre Retief, ‘n baie bekende konsertinaspeler van die Kaap, en tree ook deurlopend op. Pierre was oor die jare ‘n gereelde deelnemer aan die TBOK op Afrikaans Stereo en was in 1990 die wenner daarvan.

Sedert 1987 het hy gereeld radio-uitsendings op Konsertinaklub gedoen en hy was verskeie kere betrokke op TV1 se boereorkeskompetisies. Hy was vir ‘n aantal jare betrokke by die afrigting van skoolgaande jeugboeremusiekmusikante.

Die dansskoene kan beslis afgestof word en baie eet- en drinkgoed sal te koop aangebied word. Op Sondag sal Kassie Kasselman gewyde musiek met sy konsertina speel tydens die dankdiens op Leeupoort.

Die ingang beloop R40 vir volwassenes, R30 vir Boeremusiek Gilde-lede en kinders is gratis.

Die beplanningskomitee vir die boeremusiekfeesdag is Pieter (Voorsitter Leeupoort tak) en Reina Bodenstein, Pieter Lötter, Hestrie en Johan Kamffer en Marianne Eloff (tesourier: Leeupoort tak). Vir meer besonderhede kan Pieter gekontak word by 082 410 1655 of Reina by 082 490 7692. Vir verblyf, kontak Leeupoort Woonwapark by 083 359 2838.