Afrikaner telers skerp hul skoukritiek op

THABAZIMBI – Elke beesboer kan vir jou vertel hoe ‘n mooi bees lyk, maar sukkel dikwels om te sê hoekom een beter is as ‘n ander. Dis een van die redes waarom dr Pieter de Kock, bekende Afrikaner teler van Thabazimbi en Raadslid van die Afrikaner Beestelersgenootskap ‘n kenner genooi het na die Thabazimbi Landbouskou.

De Kock het ‘n hele aantal telers, aspirant telers en belangstellendes genooi om te kom luister en deelneem aan die beoordeling van Afrikaners deur Herman Duvenhage, rasdirekteur van die Afrikaner Genootskap.

Duvenhage het met kommentaar uit die gehoor, Pronk Afrikaners se mooistes volgens vyf funksionele punte beoordeel, naamlik nek- en ruglyn, konstitusie, bene, kapasiteit vir vleisdra, geslagsorgane en algemene indruk.

“Die Afrikaner het ‘n unieke vorm en karakter en moet hiervolgens geteel word,” sê hy. Hy waarsku dat telers soms self oor-krities is. “Die Afrikaner het ‘n ovaal-vorm, in teenstelling met Britse rasse wat ‘n vierkantige vorm het. Dit veroorsaak dat die Afrikaner soms as ‘plat’ gesien word, iets wat nie waar is nie.” Pluspunte en tekortkominge is in diere bespreek om vir elke teler ‘n idée te gee waarna om te kyk en waarheen om te teel, verduidelik De Kock.

Die Afrikaner Genootskap vier in 2012 hul eeufees en die Bosveld Klub het groot planne. Hulle wil graag een van vyf streeksfeeste in Thabazimbi aanbied. ‘Dis ‘n gulde geleentheid vir telers om te wys wat hulle vermag het,” sê De Kock. Ander feeste sal in Pretoria, Bloemfontein, Worchester en Vryburg aangebied word.

Intussen is die Bosveld Afrikaner boere gereed vir die uitdaging. Hulle weet mos nou hoekom ‘n bees mooi is.

Elana Greyling