Hyskraan val om by Medupi – Werkers lig beseer

LEPHALALE – Lephalale was in rep en roer na berigte van ‘n ongeluk op konstruksie terrein van Medupi kragstasie.

‘n Hyskraan wat gebruik word vir die konstruksie van die kragstasie het Dinsdagoggend 10 Augustus, kort  voor 8vm omgeval. Die eerste berigte wat ontvang is, was dat drie persone beseer is.

Teen Woensdagmiddag laat, het Eskom die eerste inligting vrygestel. Volgens die Medupi kommunikasie beampte, Mashudu Rmulifho, is tien werkers lig beseer. Hulle is vir skok en kneusings behandel en kon dadelik terugkeer werk toe. Gelukkig het die hyskraan geen las gedra ten tye van die ongeluk nie en is daar skynbaar nie noemenswaardige skade aan die konstruksie nie.

Volgens Rmulifho is die veiligheid en welstand van almal op Eskom terreine van primêre belang en verdien ook die hoogste prioriteit. Eskom spreek sy spyt uit oor die beserings asook vir die skokkende ondervinding wat die kontrakwerkers gehad het tydens hierdie insident.