General

Groet die bosveld

Die boodskap wat grondeienaars by die Boikharabelo Projek Ope vergadering ontvang het, was nie een wat hulle graag wou hoor nie.

“Iemand gaan die steenkool kom myn. As dit nie ek is nie, sal daar ‘n volgende ou wees.” was die woorde van Hennie van Aardweg van Res Gen SA.

Van Aardweg het sy bes probeer om oop kaarte te speel: “Ek is liewer eerlik in die moeilikheid as met leuens”.

Tydens die publieke deelname proses is die agtergrond aan grondeienaars verduidelik. Die konsultante het die omgewingsimpakstudie verduidelik. Die proses rondom die myn self is reeds ver gevorderd. Die proses sluit nou ook die impak in van die fisiese vervoer van die steenkool vanaf die myn teen die Limpopo tot by die aansluiting van die treinspoor in die Soutpan-omgewing. 38 vragmotors per uur sal steenkool aanry wanneer die myn in volle produksie is. Dit impliseer ‘n vragmotor elke minuut en ‘n half in een rigting. Die getalle
verdubbel as die twee rigtingverkeer in ag geneem word.

Die impak van geraas- en lugbesoedeling en verhoogde gevaar en druk op die pad, is ‘n groot bron van kommer vir grondeienaars al langs die roete.

Volgens Willie Brits, ‘n grondeienaar voel die impak strek al langs die roete en moet deur die maatskappy in ag geneem. Van Aardweg voel dis vir
hom onmoontlik om die impak te kwantifiseer.

Res Gen SA poog om so gou moontlik ‘n spoor-aansluiting te laat bou, wat die verkeer van die paaie sal hou. ‘n Nuwe spoorlyn sal egter ook groot
impak hê op grondeienaars langs die lyn. Die proses kan moontlik tot vyf jaar duur.

Nog ‘n struikelblok is die beskikbaarheid van water. Die maatskappy het aansoek gedoen om deel te vorm van die tweede fase van die
Mokolo-Krokodil-Wes wateraanvullingsprojek. Maar die uitvoer hiervan hang af van die betrokkenheid van SASOL en Eskom. Intussen onderhandel hulle met Eskom om oortollige water vanaf die Medupi-projek aan te koop.

Die projek sal wanneer dit voltooi is, werk verskaf aan 702 persone. Res Gen SA beplan nie om behuising in die Steenbokpan-omgewing te bou nie. Vervoer kan moontlik vanaf Lephalale voorsien word. Hein Boegman, ook ‘n grondeienaar, wou graag weet om die veiligheid- en veral omgewingsbewaringstandaarde van Suid-Afrika of Australie (waar die moedermaatskappy vandaan kom) toegepas sou word. Van Aardweg het hom verseker dat die hoogste standaarde gehandhaaf sal word.

Die frustrasie van inwoners was duidelik sigbaar, veral toe die konsultante daarop gewys is dat volledige rehabilitasie onmoontlik is. “Die jagbedryf en toerisme kan nie na 30 jaar net weer aangaan waar dit opgehou het nie,” meen Brits. “Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie!”

Elana Greyling