General

Eerste kopers sukkel steeds

Rentekoerse mag laer as ooit wees – maar eerste kopers vind dit al hoe moeiliker om die eiendomsmark te betree.

Onlangse statistiek deur Absa toon dat huispryse nou sowat 15% hoër as ‘n jaar gelede is en dat die gemiddelde huisprys nou R1m is.

“Dit plaas die ‘gemiddelde’ huis buite bereik van talle, indien nie die meeste, eerste huiskopers,” sê Martin Schultheiss, uitvoerende hoof van die Harcourts Afrika-eiendomsgroep. “Teen heersende koerse sal huiseienaars sowat R9500 per maand moet opdok om ‘n verband op ‘n eiendom van R1m oor 20 jaar te betaal – en dis benewens hulle ander maandelikse uitgawes wat in aanmerking geneem word ingevolge die Nasionale Kredietwet voordat ‘n bank ‘n lening sal toestaan.

“Maar alles is nie verlore nie vir jong kopers wat graag hulle eie huise wil besit. Kleiner eiendom, soos woonstelle of meenthuise, bied ‘n eerste vastrapplek in die mark en laat jong kopers toe om ekwiteit te bou.”

Hy maan nogtans dat bykomende faktore in ag geneem moet word voordat kopers in groepsbehuisingskemas koop. “Die eerste is dat hoewel kopers hul eie huise sal besit hulle eienaarskap van gemeenskaplike dele met ander inwoners gaan deel en dat hulle gesamentlik verantwoordelik gaan wees vir die onderhoud van sulke area, wat deur maandelikse heffings befonds word.

“Eienaarskap in skemas is waarskynlik ook effens meer ingewikkeld as die besit van vrypag eiendom waar eienaars die enigste sê het in sake soos opknapping, aanbouings en selfs of hulle troeteldiere wil aanhou. In ‘n skema word sulke sake beheer deur reëls en eienaars moet daaraan gehoor gee,” sê hy.

Hy raai voornemende kopers aan om hulle van die betrokke bestuursreëls te vergewis voordat hulle koop en om ook uit te vind wat die maandelikse heffings bedra en waarvoor dit aangewend word.

“Kopers word verder aangeraai om noukeurig te let op die verhouding van eienaars wat self eenhede bewoon en huurders. Eienaars wat self in ‘n skema woon is meer geneig om op hoë onderhoudstandaarde aan te dring en om hulle heffings gereeld en betyds te betaal. Dit bevorder beter finansiële beplanning en beperk die moontlikheid van onvoorsiene uitgawes wat bykomende eenmalige heffings nodig kan maak.

“Laastens moet kopers onthou dat grootte wel tel. ‘n Klein eenmanwoonstel mag goedkoper en dus meer bekostigbaar wees, maar dit mag makliker wees om ‘n eenheid met twee slaapkamers te verkoop wanneer die eienaar eendag gereed en geldelik sterk genoeg is om ‘n groter eiendom te koop.”