Ons lesers skryf – Gou om af te skakel…

My huis se elektrisiteit is verlede Vrydag 15:00 deur Thabazimbi se Munisipaliteit afgeskakel. Ek en my gesin was die hele naweek sonder krag.
Ek het natuurlik Maandag eerste ding my munisipale rekening (insluitend aansluitingsfooie) betaal. Hulle het belowe dat die krag teen die einde van die dag aan sou wees. Teen Woensdagmiddag was my krag nog steeds nie aangeskakel nie.

Ek erken: ek was verkeerd om te lank te wag om die rekening te betaal. Ek het die nodige kennisgewings ontvang om my te waarsku teen laatbetaling. Maar partykeer gaan dinge maar holderstebolder en ek het nagelaat om die krag te betaal.

Maar waarom die krag op ‘n Vrydagmiddag afsny? Kry die Munisipaliteit een of ander vorm van genot daaruit om mense vir ‘n hele naweek sonder krag te laat? En waarom die vertraging om dit weer aan te skakel? Dit voel nou sommer vir my soos dubbelstraf vir my agterlosigheid.
En moenie vir my sê dis omdat hulle onbevoeg is om die werk te doen nie. Hulle is baie bevoeg om krag te sny. Heraansluiting kan nie so moeilik wees nie?

Ek lewer self dienste in en om Thabazimbi vir baie jare al en al my kliënte kan beaam dat hulle nog altyd uitstaande diens ontvang het. Ons is trots om goeie diens aan mense te lewer – vinnig en kwaliteitsgewys. Hoe moet ‘n inwoner van die mooiste en besonderste dorp in die provinsie nou voel met sulke diens?

Sarel