Distriksmunisipaliteit skryf skulde af
NYLSTROOM – Vier raadslede se selfoonskulde wat reeds vir vier jaar uitstaande is, is onlangs deur die Waterberg Distriks Munisipaliteit (WDM) afgeskryf, onder andere dié van die Thabazimbiese burgemeester, Naledi Matlou.
Matlou het egter besluit om sy skuld van ongeveer R4 500 te betaal. Van die ander drie raadslede, is twee tans werkloos en die derde, ene A.S. Seabi, het ‘n goeie pos in ‘n provinsiale departement.
Raadslede kry maandeliks ‘n toelaag van ongeveer R900 om munisipale diens-oproepe te maak. Enige selfoonrekening wat hierdie bedrag oorskry moet deur die raadslid self betaal word.
Volgens Matlou, wat destyds lid van die Waterberg Distriks Munisipaliteit (WDM) was, het daar destyds ‘n geskil tussen raadslede en die WDM ontstaan oor die periode tot wanneer die toelaag geld, aangesien die verkiesing en daaropvolgende prosesse sowat ‘n maand geduur het. Die WDM het egter besluit om die toelaag te beëindig op die dag wat die verkiesing plaasvind.
Volgens ‘n verslag van ‘n WDM-vergadering is daar besluit om die selfoonskulde van voormalige raadslede af te skryf, nadat pogings om die skulde te vorder, onsuksesvol was.
‘n Korrespondent in Lephalale het aangedui dat dieselfde probleem by hierdie Munisipaliteit ondervind word, waar die lys van skuldenaars heelwat langer is en dit ook amptenare insluit. Hierdie Munispaliteit het egter regstappe geneem om agterstallige selfoonskulde in te vorder.
Soortgelyke probleme kom nie by die Thabazimbi Munisipaliteit voor nie.