Nuwe munisipale komitee mors belastingbetalers se geld
Mnr Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou Unie (DLU), sê in ‘n mediaverklaring dat die byna desperate optrede van die Nasionale Minister van Plaaslikeregering en Tradisionele sake, Mnr. Sicelo Shiceka, om ‘n Munisipale Openbarerekeningkomitee daar te stel, as lagwekkend beskou kan word.
Volgens ‘n SALGA Besprekingsdokument “Draft Framework for establishment of Municipal Public Accounts Committees (MPAC)” moet daar nou nog ‘n komitee gestig word. Dit is buiten die Oudit komitee en die Portefeulje komitee van Finansies wat reeds veronderstel is om te funksioneer. Die Besprekingsdokument doen groot moeite om aan te dui dat die Munisipale Openbarerekeninge komitee nie net ‘n duplisering is van reeds bestaande komitees (oudit en portefeulje komitee van finansies) is nie – maar slaag nie heeltemal daarin nie.
Volgens die Besprekingsdokument is die primêre funksies van die Munisipale Openbarerekeninge komitee:
- Om al die komitee se aktiwiteite aan die munisipale raad te rapporteer
- Om die munisipaliteit se kwartaal en jaarverslae te hersien en ‘n oorsigverslag daaroor voor te berei
- Moet die finansiële state en ouditverslae van die munisipaliteit ondersoek en moet aanbevelings maak om die kwaliteit van state te verbeter
- Moet openbare aanspreeklikheid en deursigtigheid bevorder
- Om aanbevelings aan die Raad te maak
- Het toegang tot alle inligting wat die komitee mag benodig vir die uitvoering van die take
Volgens die dokument moet die komitee nog in die 2010/11 finansiële boekjaar ingestel word. Die vraag is indien die komitee as ‘n artikel 79 (Munisipale Strukture wet) ingestel word, waarom wor die Portefeulje komitee van Finansies nie net aangepas nie? Meer nog, die Besprekingsdokument beveel aan dat die komitee ondersteun moet word deur personeel. Die personeel mag nie ook ondersteuningsdienste vir ander komitees behartig nie. Die Raad moet ook verseker dat die komitee oor die nodige begroting, administratiewe koordinasie en navorsingsondersteuning beskik.
Soos tipies in krisisbestuur gebeur, word ‘n nuwe komitee op rade geforseer sonder deeglike beplanning en sonder dat daar vir die komitees in die begrotings voorsiening gemaak word. Meer nog, gaan die raadslede op die komitee addisioneel vergoed word? Die vraag is alreeds waar die geld vandaan gaan kom om nog ‘n komitee met eie begroting en personeel te onderhou?
Daar moet eers aandag geskenk word om die huidige komiteestelsel aan die gang te kry. Die eerste doelwit behoort te wees om die huidige oudit en finansiële portefeulje komitee optimaal te laat funksioneer. Dit is gewoon ‘n mors van swaarverdiende belastingbetalers se geld om nou nog ‘n ekstra komitee te probeer vestig terwyl dit wat reeds daar is nog nie na behore funksioneer nie.
Volgens mnr Hoffman is dit duidelik desperate mense wat oor en oor nuwe strukture uitdink sonder om dit wat reeds daar is, net aan die werk te kry. Hy het gesê die voorgestelde komitee is dood gebore. Belastingbetalers behoort ten sterkste hierteen beswaar te maak.