ERA beoog ‘meer aksie’ vir slim verbruikers

Die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep verwag sterk groei in die nabye toekoms, gegrond op ‘n nuwe strategie wat by die multi-nasionale ERA-groep se onlangse sakekonferensie in Amerika onthul is.

Die kern van die nuwe strategie is ‘n besef dat die wêreld se eiendomsmarkte ‘n algehele gedaanteverwisseling ondergaan het en dat die hedendaagse verbruiker meer kennis het en meer in eiendomstransaksies verwag.

In sy toespraak by die onlangse ERA Suid-Afrika nasionale toekenningseremonie het uitvoerende hoof Gerhard Kotzé daarop gewys dat navorsing in Amerika ‘n sistematiese verandering in verbruikers se koopmetodes toon. “Hulle is altyd op die net ingeskakel en het talle aanlyn bronne van inligting. Gevolglik verwag hulle nie rou data van hulle eiendomsagente nie aangesien hulle dit self kan bekom. Hulle verwag eerder dieper kundigheid.

“Gevolglik is ons nou daarop gerig om ‘n groep makelaars en agente te skep wat slimmer te werk gaan deur samewerking, deel van kennis en die lewering van waarde in elke stap van die huiskoop proses – dus die beter aanwending van ons breër gemeenskap eiendomsmakelaars en –agente tot voordeel van verbruikers.”

Die boodskap aan verbruikers, sê Kotzé, is dat ERA Suid-Afrika ‘n beleid gaan volg van “’n bietjie minder praatjies en baie meer aksie”. In dié opsig het ERA ‘n nuwe aanlyn verkoopstelsel en aanlyn program vir die bestuur van kliënteverhoudinge, sowel as ander innoverings, bekend gestel.

Die maatskappy verwag aansienlike groei oor die volgende 18 maande danksy dié nuwe inisiatiewe en die opgehoopte vraag in die herstellende mark.

Standard Bank se direkteur van huislenings, Funeka Ntombela, wat die gehoor by die toekenningseremonie toegespreek het, het gesê die eiendomsmark is beslis besig om te herstel en dat die bank vanjaar markgroei van 5%, 7% volgende jaar en 10% in 2012 verwag. Sy het egter ook gesê dat die meer omsigtige benadering tot krediet in plek gaan bly en dat die tyd vir “goedkoop” geld verby is.

“Die reëls van die spel het verander en riskobepaling is van sleutelbelang vir banke wat huislenings toestaan.”

Gepubliseer op 29 Junie 2010 by www.era.co.za