Brel in Brooklyn – ’n ou vennootskap word hervat

Laurika Rauch en Jannie du Toit het twintig jaar gelede laas as ‘n duo op die verhoog saamgewerk, maar Gautengers kry vanaf 20 Julie tot 1 Augustus die geleentheid om dié twee vooraanstaande vertolkers van Jacques Brel se werk in die pragtige nuwe Brooklyn Theatre in Pretoria te hoor. Die titel van die program is eenvoudig BREL IN BROOKLYN, en gehore kan verwag om ’n anderhalf dosyn van die beste Brel-skeppinge in ’n top-uitvoering te hoor. Die program word begelei deur twee briljante musici – Christa Steyn (klavier) en Sergio Zampolli (akkordeon). Die gesoute choreograaf en regisseur, Esther Nasser, is artistieke adviseur, terwyl ’n teaterspesialis wat in die tagtigerjare van sy eerste treë saam met die twee sangers gegee het, Hardus Koekemoer, die beligting en dekor versorg. Frikkie Kruger behartig die klank.

Vroeg in 1988 het Laurika en Jannie opslae gemaak toe hulle by die legendariese Club 58 in Hillbrow een van die eerste Afrikaanse kabarette aangebied het: VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN. Die “kabaretkonsert” soos regisseur Stephan Bouwer dit genoem het, is deur media en publiek – ook Engelstalig – met groot entoesiasme ontvang, en is dwarsoor die land aangebied. Regisseur Stephan Bouwer se volgende program – die bekroonde OP DIE HARTSTOG BOULEVARD – het hulle samewerking voortgesit, en so het die twee kunstenaars ’n betekenisvolle rol gespeel in die vestiging van ’n Afrikaanse kabaret-tradisie. In daardie opspraakwekkende aanbiedinge is telkens musiek “van Brel tot Briel” ingesluit, en alle moontlike emosies is aangespreek. Die twee kunstenaars het egter veral die verbeelding aangegryp met gunstelinge soos “MADELEINE” en ”SONG OF THE OLD LOVERS” waardeur hulle gehelp het om die werk van Jacques Brel, kleinkunsmeester van die twintigste eeu, aan ’n Afrikaanse gehoor bekend te stel. In die jare wat daarop gevolg het, het albei van krag tot krag gegaan en ’n indrukwekkende Brel-repertorium opgebou – Laurika reeds voor daardie tyd in Taubie Kuschlik se gewilde aanbiedinge THE BEST OF BREL en ENCORE BREL, en Jannie veral saam met Christa Steyn in die DE KLEINE MAN-tweeluik in samewerking met Ilse van Hemert.

Besprekings kan gedoen word op www.brooklyntheatre.co.za of by Computicket. Skakel 012-460-6033 vir meer inligting, en maatskappye kan met Nanda gesels oor die  fasiliteite wat beskikbaar is om korporatiewe kliënte op ’n aandjie in die eksklusiewe losie en onthaal-lokaal saam met BREL IN BROOKLYN te trakteer. ’n Bonus vir kunsliefhebbers is dat daar gedurende die Brel-speelvak ’n Battiss-uitstalling in die foyergedeeltes van die teater is – nie alleen van Walter Battiss nie, maar ook sy weduwee, hulle skoondogter en twee kleindogters.