Mountain2Mountain nou ‘n “Argus Seeding Race”

Limpopo het nou ook, die eerste keer in die geskiedenis, ‘n padfietswedren wat amptelik as ‘n kwalifiseerder vir die gewilde internasionale Cape Argus-fietsren aanvaar is. Die Mountain2Mountain (M2M) word jaarliks in die winter by Tzaneen gehou, hoofsaaklik in die skilderagtige Magoebaskloof-omgewing.

Die eerste M2M is in 2008 deur ‘n gemeenskapskerk in Tzaneen aangebied, met die doel om die breër gemeenskap van Tzaneen te dien.  Met fietsryers wat intussen van oor die land na Tzaneen vir die ren kom en met nasionale borge wat betrokke geraak het, bring dit ook ‘n ekonomiese inspuiting vir Tzaneen en Limpopo as provinsie.

Daar is reeds wye belangstelling in vanjaar se M2M op Saterdag 17 Julie, veral vanweë die padren se verhoogde status, een van slegs dertien in die land wat dié status geniet.

Die wedren het die afgelope twee jaar so gegroei dat die begin- en die eindpunt van die wedren na die skouterrein in Tzaneen verskuif is.

Daar is weer vanjaar ‘n 108km M2M-uitdaagren vir die geharde fietsryer, asook ‘n 34 km-ren om die pragtige en propvol Tzaneendam. Elke fietsryer wat aanlyn registreer kry ‘n handige nuts-sakkie en by voltooiing van die wedren ‘n medalje.

Meer as R60 000 se prysgeld is ook beskikbaar, om opgeraap te word.

Spesiale renne vir kinders word ook weer georganiseer. Die Mini-M2M vir voorskoolse kinders en die M2M Kinderuitdaagren vir gr1- tot gr 7-leerlinge word op die Saterdag van die hoofwedren aangebied. Oulike roetes is vir die kinders op die skouterrein beplan, waar hulle veilig en onder toesig hul renne sal voltooi. Elke kind wat sy/haar wedren voltooi sal ook ‘n medalje ontvang.

Talle koskraampies sal sorg dat die innerlike nie swak is nie en springkastele vir die kinders sal vermaak vir  toeskouers help verseker, terwyl hul vir die fietsryers wag.

Vir meer inligting, skakel die volgende persone:  Johann Fourie by 082 823 1074 (hoofwedren en algemene navrae); Karen Jakobs by 083 410 7659 (kinderrenne) en Charmaine Fourie by 082 855 4415 (koskraampies).