Gholfbaan se winterbaadjie wag nog

THABAZIMBI – Die winter het nog nie Thabazimbi se gholfbaan se toestand noemenswaardig verander nie. Die baan is nou wel bietjie droër wat die bal so ‘n bietjie verder op  die skoonvelde laat rol.

Dit het seker verlede Saterdag gehelp met die Vlagspel kompetisie. Hier gaan dit oor wie die vlag die verste kan dra met baansyfer en sy voorgee. Billy Pring kon die vlag die verste dra. Na hom was daar die jonger Jannie van Graan, Nita Barnard en Alta Venter.

Onthou die “Foursomes” kampioenskap wat Saterdag 19 Junie oor 27 putjies gespeel word. Saterdag 26 Junie is dit die Bosveld Akademie wat die gholf borg.

Dit is alweer die tyd van die jaar waar daar begroot moet word vir die ledegelde wat betaal moet word. Dan word daar ook na name gesoek vir die komitee wat ook binnekort weer verkies moet word.

Interessant om te sien dat Ernie Els saam met Tiger Woods en Lee Westwood gaan afslaan in die Amerikaanse Ope. Hoop maar hy maak die keer die afsnypunt.